Siekte knou gewilde sanger Vernon Muso se kragte

Gas Monkey in Vanderbijlpark hou Saterdag 'n spesiale insameling vir dié geliefde musiekmaker

 

VANDERBIJLPARK. – Vir baie uitvoerende kunstenaars van die Vaaldriehoek, soos Vernon Muso, was die Covid-inperking die voorspel tot swaar tye. Hulle kon skielik nie meer optree nie en talle se inkomste het ‘n gevoelige knou gekry.

Met sy positiwiteit en groot talent het Vernon daarin geslaag om weer op die been te kom, maar toe tref ‘n volgende terugslag. Hy veg die afgelope twee jaar met gesondheidsprobleme wat sy optredes erg in die wiele ry. Hy sukkel met ‘n maagseer wat nie wil genees nie. Dit dreineer sy krag en veroorsaak dat hy nie meer die intensiewe fisiese eise wat gereelde optredes stel, kan volhou nie. Hy het reeds baie gewig verloor en is duidelik nie die energieke kunstenaar van ‘n paar jaar gelede nie.
Die talentvolle Vernon, ‘n Kapenaar van geboorte, het in 2012 na Vanderbijlpark verhuis en vinnig begin naam maak in die Vaaldriehoek. Sy liefde vir musiek en optrede kom al ‘n ver pad.

“Ek het op 12-jarige ouderdom begin kitaarspeel en sing. Solank as wat ek kan onthou, is ek lief vir musiek en speel ook klavier. My musiekfondasie lê stewig in die Jazz, RnB en Soul-genres, maar nadat ek Lance James in 2012 ontmoet het, het die Country-gogga my behoorlik gebyt,” sê Vernon.
Hy is sedertdien met verskeie gesogte nasionale Country-musiektoekennings vereer en het met sy optredes in die Vaaldriehoek en die res van die land reeds diep in sy aanhangers se harte ingekruip.
“Die lewe toets tans my uithouvermoë, maar ek vertrou die Here in alles wat ek doen… in die helder én in die donker tye.” Sodra daar genoeg geld is, moet hy intensiewe toeste en verdere mediese behandeling ontvang.

* ‘n Dag vol pret en musiek word op 27 April by Gas Monkey in Vanderbijlpark gehou om geld vir sy mediese uitgawes in te samel. Vernon se aanhangers word hartlik uitgenooi om die dag na verskeie kunstenaars te kom luister. Onder die kunstenaars wat gaan optree is Tiaan, Duvan Theart, Anne-Marie, Lizz, RnK Band, Vernon Muso Duo en Raymond Ray. Daar sal onder andere ook ‘n Hot Trifecta-uitdaging en ‘n veiling wees, en verskeie geskenke en pryse sal gewen kan word.

Hoewel Vernon Muso nog met dieselfde passie as voorheen sing, toon dié onlangse foto dat hy baie gewig verloor het en dat die maagseer sy kragte tap.
Vernon Muso en die bekende Country-sanger, Lance James, kort voor laasgenoemde se dood in 2020.

Exit mobile version