Local newsNews

Oud-weermagman sterf na jare se lyding

Die Nel-gesin bedank almal wat hulle deur Pieter se siekte en lyding bygestaan het.

 

MEYERTON. – Mnr. Pieter Nel (50), wat die afgelope jare aan ‘n bed gekluister was weens uitgebreide limfedeem, het Saterdagaand, 9 Maart, sy stryd teen die siekte verloor.
Sedert Vaalweekblad verlede jaar oor Pieter se toestand berig het, was baie lesers aangegryp deur dié oud-weermaglid se beproewing.

Pieter het jare gelede as weermaglid ‘n moesie aan sy regterbeen laat verwyder. Kanker het later op die plek ontwikkel en mettertyd het limfedeem ingetree. Dié toetand behels ‘n abnormale ophoping van limfvloeistof wat tipies in ‘n mens se arm of been kan voorkom – dikwels die gevolg van kankerbehandeling.

Sy been het tot so ‘n enorme grootte geswel dat hy uiteindelik nie meer kon loop nie. Buiten dat dit baie pyn en ongerief veroorsaak het, was hy die afgelope jaar totaal afhanklik van die versorging van sy broer en skoonsuster in Volmoedpark, Meyerton.

Volgens mev. Zelda Nel, sy skoonsuster, het Pieter se toestand sedert Desember verlede jaar stelselmatig agteruitgegaan en was hy in-en-uit die Kopanong-hospitaal en ‘n kliniek in Meyerton. Nadat sy toestand einde Februarie skielik verder versleg het, is hy weer in die Kopanong-hospitaal opgeneem, waar hy op 9 Maart gesterf het.

“Hoewel ons baie hartseer is oor sy dood, is ons dankbaar dat hy nou van sy pyn verlos is,” sê Zelda.
Sy bedank almal wat hulle met gebede en op ander maniere gedurende Pieter se siekte onderskraag het. Sy is ook baie dankbaar teenoor personeel van die Kopanong-hospitaal, die Meyertonse kliniek en ‘n dame van die kankervereniging wat hulle deurgaans op ‘n vriendelike en bekwame manier bygestaan het.

“Baie dankie aan almal vir die ondersteuning, hulp en geselsies. Ons het nuwe vriende gemaak wat ons hierdeur gedra het. Deur dit alles het God ons gebede gehoor,” sê sy.
‘n Roudiens is Woensdag, 20 Maart, by die Nels se huis in Volmoedpark gehou.

Pieter se regterbeen het uitermatig geswel nadat hy limfedeem ontwikkel het.
Wyle Pieter Nel, kort voor sy dood op 9 Maart.
Hoewel die foto onduidelik is, toon dit dat Pieter nog ‘n paar jaar gelede ‘n fris en selfstandige man was.

LEES WEER DIE BERIG OOR MNR. PIETER NEL WAT IN NOVEMBER 2023 IN VAALWEEKBLAD GEPUBLISEER IS:

Oud-weermagman benodig dringend hulp

MEYERTON. – ‘n Paar jaar gelede kon mnr. Pieter Nel (50) nog aktief werk en ‘n goeie bestaan as trokdrywer maak. Nadat hy ernstige limfedeem in sy regterbeen gekry het, is hy egter vandag ‘n bedlêende invalide wat ten volle van ander mense vir sy versorging afhanklik is.
Pieter het jare terug toe hy nog lid van die SA Nasionale Weermag was, ‘n moesie aan sy been laat verwyder. Kanker het later op die plek ontwikkel en mettertyd het ernstige limfedeem ingetree. Dié toetand behels ‘n abnormale ophoping van limfvloeistof wat tipies in ‘n mens se arm of been voorkom – dikwels die gevolg van kankerbehandeling. Dit veroorsaak uitermate swelling (edeem), chroniese inflammasie en fibrose (‘n verdikking van die aangetaste weefsels).

Soos wat Pieter se been groter en swaarder geword het, moes hy mettertyd sy werk as trokbestuurder laat vaar. Nadat hy sewe maande gelede sleg geval het, is hy nou bedlêend en word tans deur sy broer en skoonsuster in Volmoedpark, Meyerton versorg. Buiten dat sy geswelde been onhanteerbaar swaar is, is hy van balans af, wat die risiko verhoog dat hy weer sal val as hy probeer loop. Hy is dus nou aan sy bed gekluister en kan nie eers self badkamer toe loop nie. Die gevolg is dat hy permanent volwasse doeke moet gebruik, wat ‘n groot eis aan die gesin se begroting stel.

Pieter se skoonsuster, mev. Zelda Nel, sien bedags na hom om terwyl haar man by die werk is. ‘n Betaalde versorger kom sit ook soms hand by,. Die praktiese en finansiële uitdagings is baie groot en Pieter en sy gesin is op moedverloor se vlakte.

‘n Senior arbeidsterapeut, me. Corien Theron, wat Pieter behandel het terwyl hy nog in die Wes-Kaap gewoon het, sê in haar verwysingsbrief dit is noodsaaklik dat hy so gou as moontlik plek in ‘n hospies moet kry omdat sy skoonsuster klein gebou is en nie die fisiese krag het om hom behoorlik te kan help nie. “Dit is dus my dringende versoek dat mnr. Nel iewers opgeneem moet word waar hy die ondersteuning kan kry wat hy so desperaat benodig,” sê me. Theron.

Bekostigbare hospiesgeriewe in die Vaaldriehoek is egter baie skaars en die gesin het nie die finansies om vir opname by ‘n private versorgingsoord te betaal nie. Pieter ontvang tans net ‘n maandelikse SASSA-ongeskiktheidstoelaag van R2 090, wat skaars die uitgawes van sy doeke en heel noodsaaklikste behoeftes dek.

Sy skoonsuster sê dat hulle tot dusver nog nie plek in ‘n versorgingsoord vir Pieter kon kry nie, maar hulle hoop steeds dat ‘n plaaslike hospies sal kans sien om hom in te neem. Hulle hoop ook dat iemand intussen ‘n hospitaalbed aan hulle sal kan skenk of leen. Dit sal sy versorging aansienlik vergemaklik.

* Mense wat graag ‘n geldelike bydrae wil maak vir Pieter se volwasse doeke en ander noodsaaklike uitgawes, kan dit inbetaal by First National Bank, Rekeninghouer: Exelda Nel, Rekeningnommer: 63048030926, Takkode: 250655. Zelda kan per Whatsapp gekontak word by 063 742 1149.

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button