Local newsNewsNews

Duiwewedvlug-meester het passie vir sy geveerde vriende

Wedvlugduiwe is voorwaar 'n spesie op hul eie. Elkeen van die duiwe is kosbaar vir hul eienaars. Ontmoet een van die Vaal se duiwewedvlugmeesters, Willie Joubert

VEREENIGING. – ‘n Duif is ‘n wonderlike ding. Daarvan is Willie Joubert oortuig. Hy is ‘n duiwemeester wat al vir meer as ‘n halfeeu met duiwe boer en aan wedvlugte deelneem.

Duiwe fassineer hom al van sy kleuterdae af en hy onthou sy oupa het sy eerste duif vir hom gevang.

Willie Joubert met ‘n wennerduif op die Vaalweekblad van 25 September 1981 se voorblad. Foto’s Gerda Bruinette

Alhoewel hy al in 1963 een van sy duiwe laat vlieg het, het hy die sport eers ernstig opgeneem in 1971.

Willie het ook nog die voorblad van Vaalweekblad wat Vrydag, 25 September 1981 verskyn het.

Hy en sy kampioenduif van daardie jaar, Patrie verskyn saam op die voorblad nadat die hennetjie ‘n motorwedvlug vir jaaroud duiwe tussen Colesberg en Walker Fruit Farms gewen het.

Vandag het Willie 150 vliegduiwe en 130 broeiduiwe. Gedurende die 2023 wedvlugseisoen het sy duiwe 14 klubwedvlugte en vyf unie wedvlugte gewen.

Hy is tans deel van die Unitas Pigeon Racing Club wat op hul beurt weer deel is van die East Rand Racing Pigeon Federation (OERF).

Willie sien baie uit na die 2024 seisoen wat einde Mei afskop. “Die posduiwe vlieg net in die winter, want in die somer verveer hulle. Dan kan hul nie hul beste tye lewer nie,” vertel hy.

Dis ook in die somer wat die posduifeienaars hul hande vol het om hul duiwe fiks en gesond te hou.

“Hul kondisie moet net reg wees. Jy kan hul ook nie te veel laat oefen nie, want dan is hul moeg wanneer die kompetisie tyd aanbreek,” verduidelik hy.

Sy duiwe is net gewoond aan die beste en hy het oor die jare al mooi geleer hoe om sy duiwe in puik kondisie te kry en te hou.

Willie Joubert met een van sy duiwe wat al gereeld eerste huis toe gekom het. Foto: Gerda Bruinette

“Dis net jammer die sport is besig om dood te loop. Daar is elke jaar minder deelnemers aan die wedvlugte. Ons kort jongmense om weer ‘n belangstelling vir die sport te ontwikkel,” beduie hy.

Die Unitas Pigeon Racing Club het onlangs hul eerste verjaardag gevier. Enige belangstellendes kan die klubsekretaresse, Mattie Joubert by 082 566 0527 kontak.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button