Local newsNewsNews

Raaisel hang steeds oor Lazaro se moord

Daar is kameras wat in elke windrigting wys, maar die polisieondersoek kon nog nie antwoorde oplewer nie.

*Die berig het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (2 Februarie) verskyn. Kry ons gedrukte koerant vir al die jongste nuus.

VEREENIGING. – Die polisie krap steeds kop oor dié raaiselmoord en daar is nog geen verdagtes vasgetrek nie.

Dit is nou reeds drie weke sedert die liggaam van Lazaro de Bruyn, ‘n inwoner van Riversdal in Meyerton, in ‘n veld langs die D1184-pad by Goeiehoek gevind is.

Hy was as vermis aangemeld en ‘n soektog is begin.

Lazaro de Bruyn. Foto: Facebook

Die polisie het bevestig dat daar skietwonde aan Lazaro se liggaam was en dat ‘n saak van moord ondersoek word.

Vaalweekblad verstaan die plek waar Lazaro gevind is, is skaars meer as 10 km van sy woning in Riversdal.

Die gebrek aan vordering met die ondersoek is besig om familie en vriende van die oorledene te frustreer.

“Alles is nog so duister. As sy oom frustreer dit my,” het Wernhard Pretorius, ‘n familielid, sowat ‘n week gelede aan Vaalweekblad gesê.

Sedertdien is daar nog nie enige ooglopende vordering met die ondersoek gemaak nie, hoewel die polisie volhou dat die saak “ondersoek word” en “die nodige aandag” ontvang.

Wat die gebrek aan vordering met die saak selfs meer raaiselagtig maak is die feit dat die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit sekuriteitskameras by al die ingange van die D1884-pad opgerig het.

‘n Toring met drie kameras op by die noordelike ingang van die D1884-pad. Foto: Christiaan Cloete
‘n Toring met drie kameras op by die suidelike ingang van die D1884-pad by Goeiehoek. Foto: Christiaan Cloete

 

Die beeldmateriaal word na die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit se beheerkamer, wat 24 uur per dag gemonitor word, herlei.

“Daar is drie torings op daardie pad met kameras wat in alle windrigtings wys. By elke ingang is daar ‘n kamera.

“Hoe is dit moontlik dat nie een van daardie kameras tot nou toe nog geen beeldmateriaal kon oplewer wat met die saak kan help nie,” wou ‘n familievriend  weet.

‘n Derde toring met twee kameras, een wat noord wys en die ander een suid, langs die D1884-pad by Goeiehoek. Foto: Christiaan Cloete

Vaalweekblad het navrae – in besonder navrae oor al die kameras langs die D1884-pad – aan kapt. Teboho Lephoto, ‘n polisiewoordvoerder, gerig.

Lephoto het in ‘n kort verklaring gesê: “Die hoof ondersoekbeampte in die saak het bevestig dat die saak steeds ondersoek word en die nodige aandag ontvang.”

“Ongelukkig is daar sekere aangeleenthede rakende die saak wat ons nie op publieke platforms kan deel nie aangesien dit die ondersoek kan belemmer.”

‘n Sattelietkaart met die posisies van die kameras langs die D1884-pad. Elke moontlike ingang word gemonitor. Foto: Google Earth

You can read the full story on our App. Download it here.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button