Waterslaai: Emfuleni moet verantwoordelikheid neem

Die VF Plus meen die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit moet verantwoordelikheid neem vir die situasie.

Die Vryheidsfront Plus sê die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) moet ook verantwoordelikheid aanvaar vir die hiasinte en waterslaai wat besig is om die Vaalrivier te oorgroei en toeriste-aktiwiteite drasties te verminder.

Volgens Gerda Senekal, Vryheidsfront Plus-raadslid by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, waarsku die party al die afgelope jare die munisipaliteit om die storting van rioolvuil in die rivier stop te sit aangesien dit dien as voedingsbron vir hierdie indringerplante.

Senekal sê: “Die oormatige groei van hierdie plante in die Vaalrivier kan lei tot ‘n reeks ekologiese probleme, insluitend die verstikking van ander waterplante en kan die lewensvatbaarheid van ander waterdiere negatief beïnvloed. Dit kan ook waterpompe aan die rivieroewer verstop en skade aan boere se toerusting veroorsaak.”

Senekal meen Randwater moet soos Emfuleni ook verantwoordelikheid vir die probleem aanvaar en dringende stappe neem om die rivier skoon te maak.

Die VF Plus het Dinsdag oewerbewoners bedank vir hul ingryping die afgelope naweek met die uitskep van die plante en om dit te vernietig.

Senekal sê dit is egter onmoontlik vir inwoners alleen om die kilometers se indringerplante te verwyder.

“Dringende ingryping van Randwater en Emfuleni is nodig om die probleem aan te pak en op te los.”

“Die VF Plus sal voortgaan om druk op Emfuleni toe te pas om sy besoedeling van ʼn belangrike waterbron te stop en die rivier skoon te maak,” sê Senekal.

Waterslaai in die Vaalrivier. Foto: Verskaf
Rdl. Gerda Senekal

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version