Local newsNews

Kruis langs snelweg ‘n laaste eer aan Werner

"Dit was 'n baie mooi herdenking wat baie vir ons ouers beteken het," sê sy suster.

 

VANDERBIJLPARK. – ‘n Groot groep familielede en vriende het Sondag, 21 Januarie, ‘n kruis langs die R57-snelweg geplant ter nagedagtenis aan Werner Burger, wat presies ‘n maand tevore sy lewe hier verloor het.
Werner (30) en ‘n vriend was in die vroeë oggendure van 21 Desember 2023 op die R57-roete naby Hoff’s Place (voorheen bekend as Rafters) onderweg na Werner se ouerhuis toe die viertrekvoertuig waarin hulle gery het, van die pad af geloop en gerol het. Werner het op die toneel beswyk, maar sy vriend het oorleef.

Hoewel Werner se troosdiens reeds op 3 Januarie gehou is, het die familie en vriende besluit om sy lewe verlede Sondag ook met ‘n kruisplanting op die ongelukstoneel te herdenk. Die Burgers, wat baie bekend in Vaaldriehoekse motorfietskringe is, is bygestaan deur plaaslike biker-vriende. Werner se pa, mnr. Koos Burger, is steeds president van Mystify Vaal Bikers Club.

“Sondag was ‘n baie emosionele dag, veral vir ons ouers. Hulle kry steeds bitter swaar oor Werner. Vir die res van ons gesin en vir Billy Erasmus, Werner se beste vriend sedert hul kinderdae, is dit net so verskriklik moeilik om sy dood te verwerk. Almal sê tyd sal die hartseer gesond maak, maar daar sal nooit genoeg tyd wees om die seer weg te vat nie. Werner was ongelooflik geliefd,” sê sy suster, Charmaine.
Die gedenkkruis is Sondag in ‘n sementblad langs die pad ingeplant, waarna ‘n gebed gedoen is en vriende ‘n geleentheid gekry het om hul herinneringe oor Werner te deel. Teenwoordiges kon ook boodskappe op die sementblad skryf voordat almal na die Burgers se huis in Vereeniging vertrek het om die res van die dag saam deur te bring.

“Dit was ‘n baie mooi herdenking wat baie vir ons ouers beteken het. As gesin wil ons baie dankie sê vir almal se ondersteuning,” sê Charmaine. Hoewel sy en haar man Herman deesdae in die Noord-Kaap woon en weens werksverpligtinge nie Sondag se kruisplanting kon bywoon nie, beplan hulle om die spesiale gedenkplek binnekort te besoek.

* Werner is op 18 November 1993 in die ou Moedersbond in Pretoria gebore en het in Vereeniging grootgeword, waar hy aan die Laerskool Handhawer en Hoërskool Vereeniging skoolgegaan het.
Na skool het hy by Radius Engineering en daarna by AMG Engineering gewerk. Volgens sy vriende en familie was hy sagmoedig en liefdevol en ‘n baie lojale familieman en vriend. Hy word ook onthou vir sy lekker grappe en dat hy altyd geglimlag het. Buiten sy ouers, Koos en Elmarie Burger, word hy oorleef deur sy dogter Lea, sy twee susters en swaers.

Wyle Werner Burger.

Van die familie en vriende wat die kruisplantingseremonie bygewoon het.
Vriende van Werner wat die spesiale gedenkseremonie bygewoon het.
Werner se ouers, Koos en Elmarie Burger, by die kruis saam met een van hul dogters, Jackie Saayman, haar man Zano en hul kinders, Zayden en Logan.
Werner se ouers, Koos en Elmarie Burger, sy ouma Wilma Burger en sy beste vriend, Billy Erasmus, by die kruis.

Wyle Werner Burger

Wyle Werner Burger (middel) saam met sy swaer Herman en suster Charmaine Bronkhorst.

Lees weer die eerste berig oor Werner se tragiese ongeluk wat op 2 Januarie 2024 gepubliseer is, by hierdie skakel: https://www.citizen.co.za/vaalweekblad/news/2024/01/02/n-donker-feestyd-vir-die-burger-gesin/

Back to top button