Local newsNewsNews

Sonlandpark-moord: Seun van moord vrygespreek

Die staat kon nie bewys dat hy by die moord op sy ma betrokke was nie.

VEREENIGING. – ‘n 46-jarige man van die Houtkop-kleinhoewes in Sonlandpark, wat saam met twee ander persone vir die moord op sy ma (67) tereggestaan het, is Dinsdag (16 Januarie 2024) in die rondgaande hooggeregshof in Palm Ridge vrygespreek op meeste van die aanklagte teen hom.

Grant du Toit is in Februarie verlede jaar in hegtenis geneem nadat die polisie die lyk van sy ma, die 67-jarige Charlotte Christine Fenn (67), langs ‘n spoorlyn in Redan gevind het nadat sy vermis geraak en haar uitgebrande bakkie later op ‘n plaas naby Sasolburg gevind is.

Fenn, wat saam met haar werkers tuindienste aan mense in die omgewing gelewer het, is glo met haar eie pistool in die kop geskiet.

Quintin Edgar (52), en Lindsay Kirton (31), twee loseerders wat saam met Grant op die kleinhoewe van die oorledene gebly het, is saam met Grant van die moord aangekla en hul verhoor duur nog voort.

Quintin Edgar (52), en Lindsay Kirton (31), twee losdeerders wat saam met Grant op die kleinhoewe van die oorledene gebly het, word steeds van die moord aangekla. Foto: Christiaan Cloete

Grant, wat in Februarie 2023 op borgtog van R2 000 vrygelaat is nadat die enigste bewyse wat teen hom gevind kon word bloed op ‘n hemp en skoene was, het sedertdien ‘n lang stryd in die hof geveg om sy onskuld te bewys.

Die uitslae van forensiese toetse wat gedoen is, is uiteindelik, na bykans ‘n jaar, bekend en daar is geen bewyse wat Grant met die moord op sy ma verbind nie.

Grant staar egter wel nog aanklagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in die gesig nadat die polisie glo ‘n ongelisensieerde vuurwapen (‘n “snake gun” of tipe haelgeweer) in sy besit gevind het.

Grant du Toit en sy stiefbroer George Naber verlede jaar in die hooggeregshof by Palm Ridge. Foto: Christiaan Cloete

Jestus Fouché, ‘n afgetrede polisiekaptein wat Grant kort na die moord ondervra het, het getuig dat die Grant in ‘n stadium tydens die ondervraging uit die bloute “aggressief en baie kwaad” geraak het en op hom begin skree het.

Volgens Jestus het Grant toe geskree: ““Ek het nie my f*kk*n ma doodgemaak nie!”

Fouché het getuig dat hy van die geleentheid gebruik gemaak het om vir Grant te vra waar die moordwapen (in hierdie geval ‘n vuurwapen) was, aangesien verdagtes in sy ervaring sukkel om leuens te vertel wanneer hulle kwaad is.

Grant het glo geantwoord: “die f*kk*n geweer is in my kas onder my klere.”

Jestus Fouché, ‘n afgetrede kaptein in die Suid-Afrikaanse polisiediens. Foto: Christiaan Cloete

Jestus het toe die ondersoekbeampte gebel en gevra om vir ‘n vuurwapen in die klerekas in Grant se slaapkamer onder sy klere te soek, waar hulle toe ‘n ongelisensieërde vuurwapen gevind het.

Jestus sê hy was in daardie stadium vas oortuig dat dié geweer die moordwapen was. Dit was egter nie die geval nie.

Grant het Dinsdag, kort nadat hy vrygespreek is, na Vaalweekblad se fotograaf gestap en gesê: “Kan jy asseblief nou ophou om foto’s van my te neem? Julle het mos nou gehoor ek is nie skuldig nie. Ek vra jou mooi asseblief.”

Grant was reeds in hegtenis geneem en in aanhouding tydens sy ma se begrafnis.

Die saak duur voort.

*Lees meer in ons gedrukte weergawe van Vaalweekblad.

Grant du Toit (46) kort nadat hy in die hof vrygespreek is. Hy het ‘n lang hofstryd gevoer om sy onskuld te bewys. Foto: Christiaan Cloete

Back to top button