VANDERBIJLPARK. - Dit is die einde van 'n era. Pick n Pay Bedworthpark het na 42 jaar se diens aan die gemeenskap sy deure permanent gesluit.
Dit was 'n hartseer dag vir voormalig Pick n Pay werkers.
Groot was die opwinding toe dié sentrum (tot op hede die grootste Pick n Pay in die Vaal) sy deure destyds oopgemaak het. Die vreugde het gister (30 November) in hartseer omgeskakel.
‘n Groot aantal permanente, asook deeltydse werkers sit nou kort voor Kersfees sonder werk.
Voormalige werkers het om 08:00 by die sentrum saamgedrom. Eers was daar vreugde om mekaar weer na al die jare te sien, en later het die trane vrylik gevloei met die wete dat dit die einde van ‘n era is.
Daar kon nog nie bevestig word nie, maar daar word bespiegel dat ‘n Boxer-grootmaat winkel dalk Pick n Pay se plek gaan ineem.
Om sake te vererger het ArcelorMittal ook die week aangekondig dat sowat 3 500 werkers (wat ook werkers van die Vereeniging-tak insluit) vroeg aanstaande jaar afgelê gaan word. Berig hieroor in hierdie week se Vaalweekblad (1 – 6 Desember).