Local newsNewsNewsSport

Ster-atleet (10) droom om eendag Comrades te oorwin

Maak nader kennis met SA se o.11 landloopkampioen, Miane de Clercq van LS Kollegepark

VANDERBIJLPARK. – Sy is die Suid-Afrikaanse o.11 landloopkampioen van 2023. ‘n Merkwaardige prestasie vir die graad 5 leerling van Laerskool Kollegepark.

Tydens die 2022 SA skolekampioenskappe het sy ‘n agste plek behaal, maar die jaar het Miané de Clercq almal ore aangesit.

Sy doen nie net goed in landloop nie, Miané is ook ‘n baanatleet wat gereeld die 1 200m kafdraf. Alles het ‘n paar jaar gelede begin toe sy landloop aangedurf het net om te kyk of sy daarvan sal hou.

“Ek het agtergekom dis my talent,” vertel sy met blink oë. “Ek sal landloop kan doen tot ek baie oud is.”

Die Skole SAs is die jaar in September in Polokwane aangebied. “Dit was verskriklik warm en baie stowwerig,” onthou sy. “Ek het ‘n groot gedeelte van die wedren in derde plek gehardloop, maar naby die einde het ek besef die voorstes is moeg, en toe vat ek ‘n kans.”

Miané het ‘n geheime wapen, sy weet net hoe om ekstra spoed op te tel aan die einde van die wedloop wanneer ander atlete se energie laag is.

“Die nuwe baanseisoen het so pas begin. Ek het besluit hierdie atletiek seisoen gaan ek die 1 200m vir myself hardloop. Wanneer jy vir jouself hardloop, gee mens jou beste.

“Dis al wat nodig is, dat jy jou beste in elke wedren moet gee, dit maak nie saak watter posisie jy behaal nie, solank jy weet jy het jou alles gegee,” deel sy wyse raad uit.

Naas landloop en atletiek is sy ook’n kranige netbalspeler wat uitblink op senter. Boonop geniet sy die akademiese kant van skool net so baie en reken natuurwetenskappe en wiskunde onder haar gunsteling vakke.

Wanneer sy eendag klaar is met skool wil sy die Comrades marathon aandurf en sê sy sit elke jaar vasgenael vir 10 ure voor die televisie as die Comrades aan die gang is.

Duidelik tel Kollegepark se skoolhoof, mnr. Coenie Herbst onder haar helde, want “mnr. Coenie het al baie, ek dink 29 keer die Comrades gehardloop,” en sy glimlag nog breër.

Ons gaan nog baie van die jong atleet in die toekoms hoor.

Back to top button