CommunityLocal newsNews

Na sukses in buiteland betower Stefan ook aanhangers in die Vaal

* Die Dameskring vergader elke laaste Donderdag van die maand en dames wat wil inskakel, kan die voorsitter, Orma Bardenhorst, by 083 303 1246 kontak.

Die Crescita Dameskring se Vanderbijlparktak was bevoorreg om onlangs saam met die FAK die Afrikaanse sanger, Stefan Jansen, vir die eerste keer in die Vaaldriehoek te laat optree. Afrikaanse musiek lê hom baie na aan die hart en daarom tree hy gereeld saam met die Liedjiebus van die FAK op.
Stefan het in Julie teruggekeer van sy oorsese toer waar sy Afrikaanse liedjies groter aftrek gekry het as enige Engelse liedjie. Sy liedjies was treffers onder die Nederlandse, Belgiese en Switserse gehore. Hy skryf sy eie melodieë en sing ook al die Afrikaanse liedjies lekker lewendig.
Stefan het al in voorprogramme vir bekende kunstenaars soos die Parlotones, Jan Blohm, Valiant Swart en Anton Goosen opgetree. Met sy eie liedjie Suikerbos, sê hy, moedig hy mense aan om geluk te vind voordat dit by hulle verbygaan. Dit is die ongelooflike verwerking, stem en manier waarop hy hierdie besonderse lied sing en oordra wat jou laat stop waarmee jy besig is en jou laat luister.
Wanneer Stefan nie sing nie bou hy akoestiese kitare: ‘n Aktiwiteit wat hom deur die pandemie besig gehou het. Dit is beslis merkwaardig as daar in ag geneem word dat hy eers in Graad 10 begin kitaar speel het. Hy het ook voltyds gewerk as risikobestuurder maar deesdae maak hy net musiek. Van sy enkelsnitte sluit in: Katryn, Verdienste en Genade, Blind induik en Bid en Perspektief.
Die Crescita Dameskring dra hul dank oor aan die FAK en ook die NG Gemeente Driehoek, wat hul saal beskikbaar gestel het vir die optrede, en die gaste wat die optrede ondersteun het.
* Die Dameskring vergader elke laaste Donderdag van die maand en dames wat wil inskakel, kan die voorsitter, Orma Bardenhorst, by 083 303 1246 kontak.

Die sanger Stefan Jansen tydens sy optrede in Vanderbijlpark.
Van die teenwoordiges by die geleentheid was van links: Lusya Beukes, Ronel Dicks, Marietta van Wyk, Stefan Jansen (kunstenaar), Orma Badenhorst (voorsitter: Crescita Dameskring, Vanderbijlparktak), Sonja Jordaan, Petro Bester en Raliena Smit.

 
Back to top button