CommunityLocal newsNews

Ons word deesdae so gebreinspoel dat ons eerder sal kritiseer voor ons dankie sê

Raadsheer Phil Pretorius gee sy indrukke oor werksaamhede in die Midvaal Munisipaliteit.

Deur Phil C. Pretorius, Raadsheer en Hoofsweep, Midvaal Munisipaliteit

In die Midvaal Raadsvergadering van 26 April 2023 is ‘n item ter tafel geplaas om bonusse toe te ken aan die bestuurspan vir die munisipaliteit se negende skoon ouditverslag van 2021/2022. In vrae wat deur die opposisie gerig is word die opmerking gemaak dat daar ‘n slaggat buite in Mitchelstraat is en dus verdien niemand van hulle enige bonusse nie. In antwoord op die opmerking sê die Midvaal Burgemeester Rdh. Peter Teixeira dat niemand in enige posisie in enige loopbaan ooit bonusse sal verdien as hulle op dieé manier geëvalueeer word nie. As ‘n loodgieter in sy afgelope jaar een enkele lek ondervind of die motorwerktuigkundige ‘n enkele kapgeluid in ‘n voertuig teruggee en geen bonus verdien nie, sal die term BONUS nie meer bestaan nie. Wat Midvaal aanbetref is hulle die span wat gesorg het vir die negende skoon ouditverslag en aangewys is as die Top Munisipaliteit in die land – en vir etlike jare geen bonusse of verhogings ontvang het nie.

 

Waar hierdie toekennings meer finansieelgedrewe is, is die munisipaliteit se 2022/2023 en 2023/2024 begrotings meer dienslewering gedrewe. Raadsheer (Rdh.) Teixeira beklemtoon weer dat dit ook nie help die munisipaliteit sit met ‘n skoon oudit maar die inwoners kan dit nie voel en sien nie. Vir daardie rede is substantiewe gedeeltes van die huidige en voorgestelde nuwe begroting (wat tans in biblioteke lê vir kommentaar) toegewy aan die aankoop van nuwe diensleweringsvoertuie en infrastruktuur. Infrastruktuur wat onlangs geïnstalleer is, is onder andere die Sicelo-substasie wat elektrisiteit met betaalmeters aan daardie gemeenskap sal voorsien. Dit sal meer huishoudings van elektrisiteit bedien en ook die diefstal en oorlading bekamp. Meer inkomste aan die munisipaliteit beteken dan ook beter instandhouding en minder diefstal wat op sy beurt weer beteken dat minder onbeplande kragonderbrekings vir die res van Midvaal, veral Meyerton, sal plaasvind. Op ‘n menseregtevlak gee dit meer menswaardigheid aan ons gemeenskappe wat dit ook verdien.

 

Rdh. Teixeira het by talle geleenthede die verskeie gemeenskappe wat nie al die dienste het nie, gevra of hulle bereid sal wees om daarvoor te betaal en die antwoord was ‘n duidelike ja. Hy gebruik ook gereeld die geleentheid om aan al die gemeenskappe te verkondig dat jou munisipale rekening die eerste en belangrikste verpligting is in elke huishouding se begroting. Daarna kom die DSTV, ander luukshede en elektroniese toestelle wat gereeld deur skottels aan huise se dakke verklap word. Inligting, opleiding en bewusmaking is dus net so belangrik, in alle gemeenskappe.

 

Rdh. Teixeira sluit sy antwoord af deur te noem dat almal in gedagte moet hou dat ons die een of twee slaggate (op Provinsiale paaie dalk meer) raaksien, maar nie werk wat agter die skerms gebeur nie. Dink byvoorbeeld aan wat dit neem vir die water om by jou kraan uit te kom elke keer wanneer jy daardie kraan oopdraai en hoeveel persone moes bydra om dit te bewerkstellig. Dink aan die instandhouding van die elektrisiteitsnetwerk en die rioolsisteem. Wanneer iemand dan geïsoleerde probleme aanhaal as totale munisipale ineenstortings, vergelyk dit myns insiens met een of twee haartjies in jou moeder se kapsel wat uit posisie uitgewaai is deur ‘n onverwagse warrelwind en mense wat haar dan uitmaak as die mees onnetste en “onaangenaamste” persoon wat hulle ken. Bloot onregverdig en onvanpas.

 

Ons word ook so gebreinspoel deur populariteit om nie ons seëninge te tel nie dat ons eerder sal kritiseer voor ons dankie sê. In die Oordenking van 26 April 2023 sê Yolandi Kok dat ‘n vriendin van haar, wanneer sy depressief is, haar geld tel. Dit klink verwaand maar sy het glo mooi gespaar om R1 miljoen in te samel vir haar aftrede. Dit voel vir my dat wanneer sy dit tel, voel sy goed oor haar prestasies en toekoms en deur te fokus op die positiewe, gee sy nie ONREGVERDIGE ERKENNING aan die paar klein negatiewe elemente wat by haar spook nie. Yolandi verduidelik dat dit eintlik oor “tel jou seëninge” gaan. Sy sê Paulus sit in die tronk en skryf ‘n brief deurweek met vreugde aan die Fillipense, want vandat hy gered is “tel” hy ander dinge en ander dinge “tel”.

Ek kyk vandag na Midvaal en tel my seëninge. Midvaal groete. Phil.

Web: www.midvaal.gov.za

Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network

Tel: 0861 643 8225

MyMidvaal App

 

Raadsheer Phil Pretorius

 
Back to top button