Enkelma se raad aan ander wat ook swaarkry

"Ek glo dat as iemand materiaal sou vra omdat hy of sy iets daarmee wil doen, sal mense hulle help met die nodige goedjies."

Mev. Helena van der Westhuizen skryf na aanleiding van behoeftiges wat geldelike hulp op Facebook vra:
Ek stel voor dat behoeftige mense self goedjies moet begin maak. Verkoop dit langs die pad of adverteer op Facebook. Ek glo mense sal eerder help as jy wys jy bring jou kant ook. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg.

Hier is ook maar mense naby ons wat bittermin het. Die man het hondehokke uit palette begin maak. Hy maak nou al kombuiskaste – met handsaag en spykers. Mens het eintlik so min nodig as jy iets wil doen. Ek glo dat as iemand materiaal sou vra omdat hy of sy iets daarmee wil doen, sal mense hulle help met die nodige goedjies. Sodoende voel die mense ook meer waardig as hulle self artikels produseer en verkoop.

Daar is baie ander goed wat mens kan doen om ‘n bestaan te maak. Ek is self daardeur. Ek was ‘n enkelouer met drie klein kindertjies. Sonder werk. Ek het ‘n bietjie sement by iemand gekry en sementgoedjies begin maak en langs die pad verkoop. Dit het my huishuur betaal, kos op die tafel gesit en aldrie my kinders deur die hoërskool gekry. Ek het naderhand “rock art”-fonteine by mense se huise gaan bou! Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg… al is dit soms uit nood gebore.
Baie sterkte aan almal wat swaarkry.

 

Exit mobile version