CommunityLocal newsNews

Helpende Hand plaas kollig op Maatskaplike Werkers

Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werk dienste-afdeling gaan gedurende Maart ’n bewusmakingsveldtog van stapel stuur om die publiek van nuuts af te herinner aan dié eerbare en noodsaaklike beroep.

Internasionale Maatskaplike Werkersdag vind plaas op 21 Maart 2023, wanneer die kollig op die beroep van maatskaplike werkdienste sal val.
“Die noodsaaklike rol wat maatskaplike werkers op ’n daaglikse grondslag in die samelewing vervul, gaan egter dikwels met ’n negatiewe assosiasie gepaard en die publiek is meestal onbewus van die onmisbare dienste wat ’n maatskaplike werker in ’n gemeenskap lewer,” sê Christia Potgieter, ’n maatskaplike werker en hoof van Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werk dienste-afdeling.

Dié afdeling van Solidariteit Helpende Hand het pas ’n peiling onder die publiek gedoen om mense se menings oor hierdie beroep te hoor. Volgens die terugvoer van die peiling het die meerderheid mense al te doen gehad met ’n maatskaplike werker en hoewel die meerderheid se ervaring positief was, was daar heelparty mense wat aangedui het dat hul ervaring met ’n maatskaplike werker negatief was. Hierdie ervarings manifesteer gewoonlik wanneer ’n kind uit ouerlike sorg verwyder moet word.

“Die publiek is egter nie altyd ingelig oor die ware toedrag van sake, naamlik dat die maatskaplike werker nié die bevel om kinders uit ouerlike sorg te verwyder, uitreik nie. S? ’n bevel mag slegs deur ’n landdros van die kinderhof uitgereik word en daar word deeglik ondersoek na die ouers se omstandighede ingestel. Die Kinderwet no. 38 van 2005 gee duidelike instruksies oor die inligting wat vir ’n kinderhofverslag benodig word. Gevolglik word ’n maatskaplike werker dikwels verkeerdelik beskuldig dat sy/hy ‘net kinders van hulle ouers wegvat’,” sê Potgieter.

Sy sê nog ’n wanpersepsie oor die beroep is dat ’n maatskaplike werker nié oor ’n kwalifikasie hoef te beskik nie – die waarheid is egter dat ’n maatskaplike werker ’n vierjaar-graad moet hê en ook by die Raad van Maatskaplike Werkers (South African Council for Social Services) geregistreer moet wees. Die raad is die waghond van die beroep en indien ’n maatskaplike werker hom/haar aan onetiese of onprofessionele gedrag skuldig maak, stel die raad ondersoek na die klagte in en kan hy sovêr gaan om ’n maatskaplike werker van die rol te skrap. Maatskaplike werk is dus ’n professionele en etiese beroep.

Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werk dienste-afdeling gaan gedurende Maart, ter viering van Internasionale Maatskaplike Werkersdag, ’n bewusmakingsveldtog van stapel stuur om die publiek van nuuts af te herinner aan dié eerbare en noodsaaklike beroep.
“Deur hierdie veldtog wil ons bewusmaking skep oor wat maatskaplike werkdienste behels, die verskillende fasette van die professie, nodige kwalifikasies, die noodsaaklikheid van gemeenskapsontwikkeling asook inligting aan die publiek verskaf oor aanmeldbare sake en watter prosesse gevolg moet word. Daar word nou meer as ooit tevore baie druk op individue, gesinne en gemeenskappe se emosionele, finansiële en fisiese welstand geplaas en maatskaplike werkers speel ’n integrale rol om hoop uit wanhoop te skep,” sê me. Potgieter.
Volg die veldtog op Solidariteit Helpende Hand se Facebook-blad, Instagram en www.helpendehand.co.za

 
Back to top button