Vaalpark Primêr is super trots op hul musiekjuffrou

Elizna Denpers van Vaalpark Primêr se musieksentrum het so pas haar doktoraal met groot lof verwerf. Lees meer...

VAALPARK. – Elizna Denpers is bekend as die musiekjuffrou by Vaalpark Primêr. Haar leerlinge se confidante, die een wat altyd luister en met hope geduld liefde vir musiek aanwakker.

Vier jaar gelede het Elizna besluit om met doktorale studies in musiek te begin.
“Ek hou van studeer wou nog altyd ‘n PhD doen, maar sjoe, ek het nie geweet waarvoor ek my inlaat nie,” beduie sy.

Elizna het met haar dotorale studies weer teruggekeer na haar eerste liefde, musiek.

Sy het in die laat 90’s haar B.Mus aan die PU vir CHO voltooi en daarna ‘n honneursgraad in sielkunde gedoen. Later jare het sy ook haar meestersgraad in Sosiologie voltooi.

Sy het so pas haar tesis voltooi en het die beste moontlike uitkoms van al drie eksaminatore gekry.

Haar tesis wat die betekenisvolle impak van musiekopleiding en algemene welstand ondersoek, het haar op ‘n ontdekkingsreis geneem, nie net met betrekking tot haar onderwerp nie, maar ook oor haarself.

“Op die oomblik is ek baie moeg. Dit was ‘n harde stryd. “Genade, die bronnelys alleen was 64 bladsye,” vertel sy en wat sommer nog ‘n sluk koffie.

Boonop het daar fout gegaan met die bronprogram en het die rekenaar alles verkeerd uitgegooi.

“Gelukkig het dr. Debra Joubert ingespring en my gehelp om dit uit te sorteer.
Om ‘n doktoraal aan te pak vra spanwerk. “

“Ek is my promotors ewig dankbaar vir hul leiding en geduld. Ek weet ook nie wat ek sonder my redakteur sou doen nie. Alles moes in Engels gedoen word. Ek het nou meer van ‘tenses’ geleer as ooit tevore,” lag sy.

Deur haar navorsing, waarvoor sy tussen 500 en 600 bronne deurgewerk het voordat sy enigsins met haar eie onderhoude kon begin, het sy net weer besef hoe belangrik musiek is.

“Die waarde van musiek en musiek­opleiding is ongelooflik. Dit bou die kinders se selfvertroue, leer hul dissipline en bied aan hul ‘n gesonde manier om van hul stres ontslae te raak.”

Uit haar navorsing het sy ook besef dat musiekonderwysers in baie gevalle baie meer is as net die een wat musiek aanbied.

“Baie van die leerders beskou hul musiekonderwysers as hul vertrouelinge, ‘n volwassene wat regtig luister. Hul musieklesse word hul tye waar hul veilig voel.

“Dis hoekom dit so belangrik is dat musiekonderwysers ook na hulself en hul eie geesteswelstand omsien. Jou gemoed beïnvloed, jou leerlinge,” sê Elizna.

Sy het ook bevind dat baie van die musiekonderwysers afgesonderd en alleen voel. “Musiekklaskamers en sentrums is gewoonlik so ver as moontlik van ander klaskamers en ons tye verskil van die normale skoolure.”

Elizna oorweeg dit nou sterk om ‘n groep te stig waar musiekonderwysers net bietjie mekaar kan ondersteun, sou nou en dan bymekaar kan kom en selfs musiek maak.

“Jy weet ons het almal ‘n passie vir musiek, maar hoeveel musiekonderwysers maak tyd om self weer ‘n instrument op te neem of die klavierklawers onder ons vingerpunte te voel?”

Alhoewel die afgelope vier jaar haar energie getap het, is sy bly sy het dit gedoen.

“Ek het so baie gleer en ek is trots op wat ek bereik het. Dit was ‘n ongelooflike reis.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version