Local newsNews

Bernina Vanderbijlpark – 21 Jaar van passie en pret!

Die eens klein onderneming wat met net twee personeellede begin het, word hierdie week mondig en spog vandag met 'n uitgebreide personeel wat van die knapste in die bedryf is.

 

Kunstig, kleurryk en kreatief. Dit is hoe Bernina Vanderbijlpark se personeel beskryf kan word. Daarby wys die breë glimlagte waarmee kliënte begroet word dat dit hier om veel meer as net naaldwerk gaan. Hulle put ware genot uit alles wat hulle doen!
Eienaar Driekie van der Westhuizen en haar sakeman-eggenoot Wink is al sedert 1978 bekendes in Vaaldriehoekse besigheidskringe. As dogtertjie sou Driekie liewer fietsry as naaldwerk doen, maar in haar agterkop was daar altyd die droom om eendag haar eie naaldwerkwinkel te hê. Dit is aangevuur deur haar kreatiewe aard, haar liefde vir mooi klere en huisversiering.

Op 4 Februarie 2002 is haar droom bewaarheid toe sy die deure van Bernina Vanderbijlpark in ‘n klein perseel in die Sweidan-gebou oopgemaak het. Haar naaldwerkwinkel was gou ‘n miernes van bedrywigheid en moes spoedig verhuis na ‘n groter perseel in Vonpark-gebou 3, Attie Fouriestraat, Vanderbijlpark. Die eens klein onderneming wat met net twee personeellede begin het, word hierdie week mondig en spog vandag met ‘n uitgebreide personeel wat van die knapste in die bedryf is.

“My bestuurderes, Christine Fourie, woon al sedert haar eerste skooljaar in Vanderbijlpark. Sy het van 1985 tot 1988 in voedsel en kleding aan VUT studeer en in 2009 by Bernina aangesluit. Sy het ‘n liefde vir die mense van die Vaaldriehoek en met haar jare se kundigheid en ervaring help sy graag. Karen Olivier is ons leermeester met sagteware en borduurmasjiene asook omkapmasjiene. Sy is al sedert 1988 in die Bernina-netwerk en het in 2017 by ons aangesluit,” sê Driekie.

Sy het ook groot lof vir Andrew Taylor, wat sedert 2016 in beheer van Bernina Vanderbijlpark se tegniese afdeling staan.
“Hy is besonder begaafd met die nuutste rekenaartegnologie en vervaardig vir ons onderdele vir masjiene van ander fabrikate asook vir ou Berninas waarvan die parte nie meer beskikbaar is nie,” sê sy.

Vir elke produk wat hier verkoop word, kry die personeel amptelik intensiewe opleiding by Bernina se hoofkantoor. Ekspert-leermeesters van buite word ook betrek om Bernina Vanderbijlpark se hoëgehalte kursusse aan te bied.
Bernina, ‘n Switserse onderneming, vervaardig al sedert 1893 naaldwerkmasjiene – ‘n volle 130 jaar! Wat dit nog meer uniek maak is dat die stigter, Karl Fiedrich Gegauf, se familie tot vandag toe steeds Bernina-masjiene in Steckborn, Switserland, vervaardig.

“Bernina-produkte is van hoogstaande gehalte en bied standvastige waarborge en puik naverkoopdienste. Bernina RSA se uitgebreide ondersteuningsnetwerk is een van die groot redes waarom ons die fabrikaat met soveel trots en vertroue kan verkoop. Ek is een van die gelukkigste mense op aarde want hier leef ek my passie uit,” sê Driekie.

Om Bernina Vanderbijlpark se 21ste verjaarsdag te vier, word verskeie gratis demonstrasies hierdie week elke dag tot Vrydag 3 Februarie aangebied, wat vyf segmente van naaldwerk dek. Na afloop van die demonstrasies word klasse bevestig om jou in staat te stel om jou eie Valentynstafel te kan voorberei. Met passie en pret help Bernina jou om kunswerke met liefde te skep!
* Kom maak gerus kennis met Driekie en haar span by Vonpark-gebou 3, Attie Fouriestraat in Vanderbijlpark se sakesentrum, of kontak hulle by (016) 933 4483 / (016) 931 2960 of per WhatsApp by 081 264 2276.

Foto’s: Nicky J. van Vuuren, Chilli PicNic

Driekie van der Westhuizen, eienaar van Bernina Vanderbijlpark.

 

Christine Fourie (links) en Karen Olivier vrolik aan die werk agter hul Berninas.
Andrew Taylor, tegniese ekspert.
Bernina help jou om in die regte bui te kom vir Valentynsdag! Kom leer hoe jy die mooiste tafelversierings kan maak!
Die eienaar van Bernina Vanderbijlpark, Driekie van der Westhuizen (tweede van regs), saam met haar span: Karen Olivier, Andrew Taylor en Christine Fourie.

Back to top button