HealthLifestyleLocal newsNews

Grootste geskenk: Nicolien kry haar ‘smile’ terug!

Die breë glimlag waarmee Nicolien nou almal begroet, spreek boekdele.

 

VEREENIGING. – Tien maande nadat Nicolien Koster byna al haar tande in ‘n fratsongeluk verloor het, kan dié 26-jarige nooi weer breed glimlag danksy ‘n plaaslike tandarts en ‘n tandheelkundige tegnikus wat gesorg het dat sy ‘n nuwe gebit kry!

Vaalweekblad het onlangs berig oor Nicolien, wat in November verlede jaar haar tande verloor het toe een van die voertuie by ‘n sleepren waar sy ‘n toeskouer was, teen ‘n veiligheidsbuffer gebots het. Nicolien het direk agter die buffer gestaan en met impak het die swaar muur van opgestapelde bande inmekaargetuimel en haar reg in die gesig getref. Sy was vasgepen onder die massiewe vrag bande en kon nie beweeg of behoorlik asem kry nie. Sy het haar bewussyn verloor en eers ‘n paar uur later in die Vereeniging/Kopanong-hospitaal wakker geword.

Vier van haar ribbes was gekraak en haar sleutelbeen gebreek. Sy het ook ‘n besering aan haar een been opgedoen, maar die ergste was dat feitlik al haar tande uitgestamp was.

Omdat Nicolien nie ‘n mediese fonds het nie, het sy gehoop dat sy ‘n gebit by ‘n staatsinstansie sou kon kry, maar dit was gou duidelik dat dit byna onmoontlik sou wees omdat dit normaalweg net aan pensioenarisse verskaf word – en dan is die waglys boonop sowat vyf jaar lank.

Die volgende tien maande was ‘n nagmerrie vir Nicolien. Saam met die verlies van haar tande het sy ook haar werk, haar selfvertroue en haar glimlag verloor. Sy het verkies om weg te kruip by haar ouerhuis in Vereeniging, waar sy nie nodig gehad het om met kliënte of vreemdes te gesels nie.

Nadat sy onlangs met Vaalweekblad oor haar ongeluk en gepaardgaande probleme gesels het, het ‘n Vanderbijlparkse tandarts, dr. Herman du Toit, besluit om haar kosteloos te behandel. Na die aanvanklike ondersoek is ‘n afspraak vir Nicolien se groot dag gemaak: Vrydag, 2 September, toe dr. Du Toit ‘n paar van haar oorblywende tande wat onherstelbaar beskadig was, moes trek. Teen die middag kon sy huis toe gaan met haar nuwe gebit, wat deur die tandheelkundige tegnikus Glen Holten van Glendent, vervaardig is.

Die breë glimlag waarmee Nicolien nou almal begroet, spreek boekdele. Buiten dat sy nou makliker kan eet en praat, open haar gebit ook die deur na ‘n nuwe hoofstuk in haar lewe, sodat sy weer vir werk kan aansoek doen.

“Ek weet nie hoe om genoeg dankie te sê aan dr. Du Toit en Glendent nie. Dit is die grootste geskenk wat ek nóg gekry het. Dit is so lekker om weer te kan smile en nie meer selfbewus te voel nie,” sê sy.

* Nicolien bedank ook die tandartspraktyk van dr. S.G. Menezes in Vereeniging, sowel as die private tandheelkundige tegnikus, Riaan Fourie, wat ook aangebied het om hul dienste gratis aan haar beskikbaar te stel.

Dr. Herman du Toit, die Vanderbijlparkse tandarts wat saam met die tandheelkundige tegnikus, Glen Holten, gesorg het dat Nicolien Koster weer tande en ‘n vrolike glimlag het. Foto: Clarrisa Steyn
Nicolien se nuwe gebit word vir die eerste keer gepas
Mnr. Glen Holten van Glendent

 

KYK NA ‘N  VIDEO VAN DIE ONGELUK WAARTYDENS NICOLIEN HAAR TANDE VERLOOR HET, BY HIERDIE SKAKEL , https://www.youtube.com/watch?v=4jAhI0P83V0    EN LEES WEER DIE OORSPRONKLIKE BERIG HIER ONDER:

 

EERSTE BERIG: Grootste droom: Om teen Kersfees weer te kan ‘smile’

Deur Retha Fitchat

MEYERTON. – Met haar netjies gegrimeerde gesig, amandelvormige bruin oë en Mona Lisa-glimlag kan Nicolien Koster (26) beslis die koppe laat draai. Kanse is egter min dat jy haar ooit breed sal sien glimlag of selfs net sal sien gesels want agter haar glimlaggie met saamgeperste lippe steek sy ‘n geheim weg: Sy het in November verlede jaar amper al haar tande in ‘n fratsongeluk verloor.

“Dit voel of my smile gesteel is. My persoonlikheid het heeltemal verander. Ek sukkel om te eet en te praat en ek wil nie meer uit die huis uit gaan nie. Ek het niks meer selfvertroue nie,” sê sy hartseer.

Nicolien, wat by haar ouers in Vereeniging woon, was die betrokke dag in November 2021 saam met ‘n vriend by ‘n sleepwedren (drag race) toe een van die bestuurders beheer oor sy voertuig verloor en teen ‘n veiligheidsbuffer van opgestapelde voertuigbande gebots het.

Nicolien, haar vriend en nóg toeskouers was direk agter die veiligheidsbuffer en toe die voertuig dit tref, het die swaar muur van bande inmekaargetuimel en Nicolien reg in die gesig getref. Sy is onder die berg van rubber en metaal vasgepen.

“Ek het die slag gevoel en gehoor hoe die mense skree. Ek was vasgedruk onder die bande en kon nie beweeg nie. Ek het my bewussyn verloor en eers ‘n paar uur later in die Vereeniging-Kopanong Hospitaal wakker geword. Ek het dadelik die pyn gevoel,” sê sy.

Buiten dat meeste van haar tande uit was, was vier van haar ribbes gekraak en haar sleutelbeen gebreek. Sy het ook ‘n besering aan haar een been gehad. Verdere komplikasies het ingetree en haar suikervlakke het vermoedelik weens die skok erg begin fluktueer. Sy is ‘n diabeet wat gereeld insulieninspuitings moet kry. Twee weke na haar opname kon sy uiteindelik huis toe gaan. Sy het later uitgevind dat die vriend saam met wie sy by die sleeprenne was, se ligamente in sy enkel geskeur is en van die ander toeskouers is ook beseer, maar sy weet nie hoe ernstig nie.

Nicolien het voor die ongeluk by ‘n winkel gewerk maar omdat sy weens haar ribbeserings nie meer die krag gehad het om haar fisies veeleisende take te verrig nie, kon sy nie teruggaan nie. Sy is sedert die voorval werkloos al het sy reeds by verskeie potensiële werkgewers gaan aanklop.

“Niemand wil ‘n mens werk gee as jy nie behoorlik met kliënte kan praat of kan glimlag nie,” sê sy.

Nicolien het nie ‘n mediese fonds nie en is van die staat se gesondheidsdienste afhanklik. Sy het aanvanklik gedink dit gaan maklik wees om ‘n kunsgebit te kry, maar dit lyk in dié stadium amper onmoontlik. Tans word dit by min Vaaldriehoekse staatsinstansies verskaf en dan ook slegs aan pensioenarisse bo 60. Sy kan moontlik by die staat se tandheelkundige dienste in Johannesburg of Pretoria gehelp word, maar die waglys vir ‘n kunsgebit daar is tans meer as 5 jaar.

“Ek wil so graag net weer tande en ‘n normale lewe hê. Dit sal die grootste Kersgeskenk wees wat ek nog ooit in my lewe gekry het,” sê Nicolien.

Mense wat graag ‘n bydra wil maak sodat sy genoeg geld kan insamel om ‘n gebit by ‘n private tandarts te laat maak, kan dit inbetaal in hierdie rekening:

Capitec, rekeninghouer: N. Koster, spaarrekening: 1396274764, takkode: 470010.

* As daar ‘n private tandarts of prostodontis is wat kans sien om te help, kan hulle Vaalweekblad kontak by 083 246 0523.

 

Nicolien wys hier hoe min tande sy oor het na die ongeluk.

 

Nicolien Koster (26), wie se glimlag ‘gesteel’ is toe sy haar tande verlede jaar in ‘n fratsongeluk verloor het.

********************************************************************************************************

Back to top button