HealthLifestyleLocal newsNews

Klein Abigail se beproewing met 80% brandwonde aan haar bolyfie

Ketel vol kookwater skiet uit oor 9-jarige meisie. 'n Tweede krisis volg toe haar pa, wat haar wou help, gly en sy been ernstig beseer.

VANDERBIJLPARK. – Donderdag, 19 Mei 2022, het as ‘n gewone dag vir die Nienaber-gesin van Vanderbijlpark begin, maar in ‘n nag van pyn en skok geëindig.

Die 9-jarige Abigail, dogter van Robert en Sheron Nienaber, het die aand omstreeks 20:30 vir haar ‘n warmwatersak voorberei soos wat sy al soveel keer tevore behendig gedoen het. Dié aand het die ketel egter uit haar hand geglip en die kookwater het oor die voorkant van haar hele bolyf, een arm en skouer uitgeskiet.

“Toe sy gil het haar pa dadelik na haar toe gehardloop om te kyk wat gebeur het. Met dié het hy self gegly en geval en ‘n diep sny aan sy onderbeen opgedoen. Ek het ook gehardloop en Robert bebloed op die vloer aangetref terwyl Abigail histeries gehuil het. Sy het toe reeds haar hempie uitgetrek maar ek kon sien dat die velle al aan haar klein lyfie gehang het,” vertel Sheron.

“Ek het my nagjapon oor haar gehou en gesê ek weet sy het baie seer maar dat sy moes probeer om rustig te bly. Abigail is ‘n sterk kind maar ek was bang sy kry ‘n paniekaanval. Ons het dadelik met haar na Emfuleni Mediclinic gejaag, waar vasgestel is dat sy tweedegraadse brandwonde aan 80% van haar bolyf opgedoen het. Sy was in die opvolgende dae vier keer in die teater waar dr. Adelaide Rooi, ‘n plastiese en rekonstruktiewe chirurg, die wonde aan haar maag, bors, nek, skouer en gedeelte van die rug geskraap en verder behandel het.

“Baie mense het vir Abigail gebid en ons glo dat hier wonderwerke gebeur het. Die medici het uitstekende werk gedoen. Ons weet hulle was instrumente in die Here se hand. Ons dien ‘n groot God,” sê Sheron.

Die snywond aan Robert se been is ook medies behandel en met steke geheg en het intussen mooi genees. ‘n Verdere tragedie het die gesin getref toe Abigail se ouma ‘n maand na die voorval gesterf het.

Na weke van groot pyn en ongerief is Abigail se wonde nou genees en is sy terug op die skoolbanke van die Laerskool Eligwa. Hoewel sy littekens oorgehou het, het die brandwonde mooi herstel en haar ouers glo dat die littekens soos wat sy ouer word, minder sigbaar sal wees.

Die gesin bedank almal wat vir Abigail gebid het, sowel as haar klasmaats, veral haar beste maatjie Lilly Rothman en die Bezuidenhout-familie, vir al hul ondersteuning gedurende haar beproewing.

WAARSKUWING: VAN DIE FOTO’S HIER ONDER IS BAIE GRAFIES. MOENIE VERDER AFROL AS JY ONTSTEL WORD DEUR ERNSTIGE BESERINGS NIE.

Abigail en haar ouers, Sheron en Robert Nienaber.

Abigail (9) saam met haar ouers, Robert en Sheron Nienaber, terwyl sy nog in die hospitaal was.
Die diep snywond wat Abigail se pa, Robert Nienaber, opgedoen het toe hy haar wou help maar self gegly en geval het.

 

 

Foto bo: Abigail se bolyf met wondbedekking, kort nadat sy deur kokende water gebrand is.

Foto bo: Die brandwonde aan Abigail se skouer kan hier duidelik gesien word

 

Abigail se brandwonde het baie goed herstel, hoewel daar nog littekens is wat na verwagting met verloop van tyd minder opsigtelik sal word.

Abigail Nienaber (regs) saam met haar bestie, Lilly Rothman.

 

***************************************************************************************************************

 

Back to top button