AmusingLifestyleLocal newsNews

ELM-slaggat toe al die tyd ‘n sinkgat

‘n Padrehabilitasieprojek van sowat R42-miljoen is destyds begin om teerpaaie in die stad te probeer herstel.

VEREENIGING VIER VANJAAR SY 130STE BESTAANSJAAR. OM DIT TE HERDENK KYK VAALWEEKBLAD VANJAAR TERUG NA INTERESSANTE NUUS EN GEBEURE VAN DIE AFGELOPE JARE. HIERDIE IS EEN DAARVAN:

Baie inwoners van die Vaaldriehoek se tone het seker op 26 Julie 2016 omgekrul van genot toe dit aan die lig kom dat ‘n voertuig van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) in een van die menige slaggate in Vereeniging vasgeval het.

Die stad, soos vele ander in Suid-Afrika, se paaie is besaai met slaggate weens onvoldoende munisipale onderhoud en sou waarskynlik veel erger gelyk het as dit nie was vir die plaaslike sakegemeenskap wat gereeld hand in eie beursie steek om dit te herstel nie.

Mnr. Stanley Gaba, destydse kommunikasiebeampte van die munisipaliteit, het egter gesê dit was geen slaggat nie maar ‘n sinkgat op die hoek van Edwardstraat en Stanleylaan wat die ELM-voertuig gedeeltelik “ingesluk” het en dat die munisipaliteit min beheer oor die ontwikkeling van sulke gate het.

Hy het verduidelik dat die sinkgat ontstaan het toe die hoofriooltoevoerlyn ineengestort het – die gevolg van Vereeniging se verouderde infrastruktuur wat die ANC-munisipaliteit by die vorige regime geërf het. ‘n Gedeelte van die rioolpyp is einde 2015 in Uniestraat vervang, maar die gedeelte in Stanleylaan het steeds probleme gegee. Die tydelike herstelwerk wat in daardie stadium voor Sedibeng College in Voortrekkerstraat gedoen is, het ook bygedra tot die ontstaan van die sinkgat.

ELM het die stad se probleme weens die ou infrastruktuur daarna by die Sebokeng-rioolskema se pypvervangingsprogram aangemeld in die hoop dat herstelwerk deur die nasionale departement van water en sanitasie goedgekeur sou word.

‘n Padrehabilitasieprojek van sowat R42-miljoen is ook begin om teerpaaie in die stad te probeer herstel. Soortgelyke projekte is steeds aan die gang, hoewel kenners meen dit gaan baie miljarde rand méér kos om Vereeniging se rioolnetwerk en paaie tot ‘n aanvaarbare standaard te vernuwe

 

Die munisipale voertuig waar dit in 2016 in ‘n sinkgat in Vereeniging se middestad beland het.

***********************************************************************************************************

 

Back to top button