HealthLifestyleLocal newsNews

Plaaslike navorser bewys nederige vygie se helende eienskappe

Die suurvy word al vir honderde jare deur verskeie inheemse kulture in Afrika gebruik in medisinale toepassings - nou is die plant se eienskappe amptelik bewys

VANDERBIJLARK. – Suid-Afrika het ‘n skatkamer van inheemse plante met medisinale eienskappe wat in die laaste paar dekades die belangstelling van wetenskaplikes begin prikkel het. ‘n Vanderbijlparkse biotegnoloog, dr. Unisa Terblanche, wat spesialiseer in medisinale plante en verwante navorsing, het onlangs van die geheimenisse van een so ‘n plant wetenskaplik ontsluit.
Unisa was nog ‘n jong meisie van die Noord-Kaap toe haar belangstelling in medisinale plante geprikkel is. Die Carpobrotus edulis (bekend as die suurvy), is een van die plante waarop sy navorsing begin doen het. Die suurvy word al vir honderde jare deur verskeie inheemse kulture in Afrika gebruik in medisinale toepassings. Die blare word onder andere gebruik om brandwonde, skrape, velinfeksies en ekseem te behandel.
So vroeg as 2001 is die antibakteriese eienskappe van die suurvy reeds wetenskaplik bewys. Die swamdodende uitwerking van die plant-ekstrak, sowel as die anti-oksidatiewe voordele is ook intussen bestudeer en die effektiwiteit daarvan gepubliseer.
Unisa se vorige studies in wondherstel het haar daartoe gelei om die wondherstelpotensiaal van die suurvy die fokuspunt te maak van haar doktorsgraad waarmee sy in 2016 weggespring het. Sy wou poog om wetenskaplik te bepaal of die suurvy werklik wondheling kan aanhelp as dit op oppervlakkige krap- en brandwonde, insekbyte en koorsblare aangewend word.
Deur haar navorsing van vyf jaar het sy bevind dat haar plant-ekstrak van die suurvy ‘n beduidende helende effek op menslike vel-selle het (in ‘n sel-kultuur), waar wond-areas tot 30% vinniger herstel het. Daar lê nog ‘n lang navorsingspad voor om vas te stel of dieselfde resultate in vivo behaal kan word (op lewende vel-selle van mense met wonde).
Die sonbeskerming-, anti-mikrobiese, anti-inflammatoriese en anti-bakteriese eienskappe van die suurvy is reeds wetenskaplik bewys. Met die ontdekking van die wond-herstelpotensiaal, was dit dus die logiese stap om te kyk hoe hierdie voordele in kosmetiese produkte geïnkorporeer kan word.
Dit is hier waar Unisa se seun, Nico, ‘n oudleerling van Hoërskool Driehoek wat self ‘n graad in Chemie en Mikrobiologie aan die NWU behaal het en spesialiseer in kosmetiese chemie, in die prentjie gekom het. Hy het besluit om in samewerking met sy pa, dr. Liam Terblanche, ‘n ingenieur met jare se entrepreneurservaring, Sour Fig Cosmetics op die been te bring. Die maatskappy is nou amper 2 jaar oud en verskeie produkte in die Sour Fig Cosmetics-reeks is reeds aanlyn beskikbaar. En te oordeel aan Unisa se jeugdige, vlekkelose vel, is die resultate uitstekend!
* Besoek die webblad www.sourfig.com vir meer besonderhede. Vier gelukkige lesers wat die woord “Sour Fig” en hul naam en van na 076 454 9256 Whatsapp, sal ‘n geskenkpakkie van die produkreeks ontvang.

Kyk ook na hierdie video:  https://drive.google.com/file/d/11v-myTWu9xMJ1nxGmJ2yhhnwMAC0bhZ0/view

Die blom van die Carpobrotus edulis of suurvy, soos baie mense dié inheemse plantjie ken.

 

Back to top button