HealthLocal newsNews

Jurie pak sy herstelpad tree-vir-tree aan

Jurie het hierdie week aan Vaalweekblad gesê dat die dokter tevrede is met die wonde se herstel, maar x-strale wat verlede week geneem is, toon dat die been ongelukkig nog nie mooi aangegroei het nie

VANDERBIJLPARK. – “Die wonde genees mooi en ek kan nou al ‘n bietjie gewig op die been begin sit.”

So sê mnr. Jurie Edwards (51), die man wie se linkerbeen op 25 Februarie vanjaar op twee plekke sleg gebreek is in ‘n motorfietsongeluk in Evereststraat, Vanderbijlpark.

Hy was die dag van sy werk af op pad huis toe toe hy deur ‘n speurder wat van diens af was, se bakkie getref is. Veloorplanting is gedoen om Jurie se diep wonde te bedek, maar weens verskeie beperkings by die Sebokeng-hospitaal moes hy 10 weke wag voordat hy ‘n noodsaaklike operasie kon kry om die breuke in lyn te trek. Die operasie kon uiteindelik op 6 Mei gedoen word.

Jurie het hierdie week aan Vaalweekblad gesê dat die dokter tevrede is met die wonde se herstel, maar x-strale wat verlede week geneem is, toon dat die been ongelukkig nog nie mooi aangegroei het nie. Hy mag nog nie sonder krukke loop nie, maar die dokter het aanbeveel dat hy nou kan begin om ‘n klein bietjie gewig op die been te sit. Hy oefen die been elke dag en kan dit nou al verder as 90 grade buig.

Jurie hoop om teen September voldoende genees sal wees om sy werk as ketelmaker by Lead EPC, ‘n ingenieursonderneming in Vanderbijlpark, te kan hervat. Hy bedank graag sy kollegas wat onlangs ‘n insameling gehou het om hom en sy gesin te ondersteun gedurende sy hersteltyd.

 

Jurie Edwards en sy vrou, Vicky, in hul tuin waar hy gereeld met sy krukke stap en stadig maar seker meer gewig op sy beseerde been kan begin plaas.

 

Die slegte breuke in Jurie se been kan duidelik op dié x-straalplaat gesien word. Dit is voor sy operasie geneem om die been te spalk.

 

Jurie en Vicky saam met ‘n paar van sy kollegas wat ‘n fondsinsameling gehou het om die gesin finansieel by te staan terwyl Jurie nog herstel na sy ongeluk en operasies.

 

********************************************************************************************************************

Back to top button