HealthLifestyleLocal newsNewsOpinions

Raad gevra oor beurtkrag-effek op ma se suurstof

Het enigiemand ‘n soortgelyke probleem en het julle enige oplossing gevind?

Annatjie Venter skryf:

Ek weet mense is so moeg om klagtes te lees, daarom wil ek vra dat julle hierdie eerder as ‘n desperate navraag vir raad sal beskou.

My mams behoort aan Sizwe Medical Aid. Sy is 24 uur per dag op suurstof. Haar fonds huur vir haar ‘n suurstofmasjien en ‘n silinder. Sy moet egter self vir die silinder se hervul betaal.

Hier is ons probleem, en ek hoop dat iemand met dieselfde probleem vir my kan raad gee asseblief: Tans het ons gereeld vir ongeveer sewe en half ure geen krag nie. Ons het eers ‘n kragopwekker probeer. Dit kos ons so R4 500 per maand aan brandstof op die huidige beurtkrag. Haar silinder moet op “1” loop, wat beteken dat daar slegs 24 uur se suurstof is. Dit kom daarop neer dat die bottel elke derde dag leeg is. ‘n Hervul kos gemiddeld R200 per bottel, wat dus ongeveer R2 000 per maand gaan beloop. Dit is onmenslik erg vir ‘n pensioenaris. Het enigiemand ‘n soortgelyke probleem en het julle enige oplossing gevind asseblief?

Ons het ook gehoor jy kry ‘n reguleerder wat nie “free flow” nie maar slegs suurstof gee soos wat die pasiënt asemhaal. Indien enigiemand iets meer hiervan weet of waar mens so iets kan bekom, sal ons die inligting baie waardeer.

Hierdie brief is regtig nie as ‘n klagte bedoel nie, maar ons is raadop en wil graag enige advies kry asseblief? By voorbaat dankie.

 

Theuns van Tonder, ‘n leser wat al heelwat inligting oor die onderwerp ingesamel het, gee dié raad:

Annatjie-hulle kan kyk na ‘n inverter en 2 x deep cycle batterye vir ongeveer R6 500. Die koste is eenmalig. Hulle kan waarskynlik dan baie op kragopwekker-koste bespaar.

Dit kan gekombineer word met sonkrag as teenvoeter teen kragonderbrekings. Dit is beskikbaar by Makro en Builders Warehouse. Die batterye laai wanneer die krag aan is, so julle kry die beste moontlike oplossing.

Daar is ook power packs van 299 kW beskikbaar wat die kragopwekker vervang teen plus/minus R4 000. Mense gebruik dit veral as hulle kamp. Dit herlaai ook terwyl die krag aan is en daar is geen uitlaatgasse of brandstofuitgawes nie. Kyk ook na ‘n geïntegreerde batteryoplossing. Kragopwekkers is ou tegnologie en ‘n baie swak omskakeling na elektrisiteit versus insetkoste.

 

 

*********************************************************************************************************************

Back to top button