HealthLifestyleLocal newsNews

Nóg ‘n operasie noodsaaklik om Keagan beter gebruik van sy handjie te gee

Enigiemand wat die gesin en die kleinman graag geldelik wil ondersteun, kan ‘n inbetaling doen in die volgende rekening: Capitec, rekeningnaam: M. Maritz, rekeningnommer: 1545476851 (Spaarrekening).

MEYERTON. – Terwyl klein Keagan Havenga (21 maande) vrolik met sy speelgoed werskaf, is daar min tekens dat hy al baie ongemak en pyn in sy lewe moes verduur. Dit is eers as mens sy linkerhandjie van naderby bekyk dat jy sien die middelvingertjie is kromgetrek en sy ringvinger is heeltemal afwesig.

“Keagan is ‘n besige klein mannetjie en dit lyk darem nie of hy baie pyn het nie, maar dit is beslis gevoelig as hy op die skewe vinger val,” sê sy ma, Megan.

Keagan is op 10 Oktober 2020 gebore met albei handjies se middel- en ringvingers wat aan mekaar vas was. ‘n Operasie is op 17 Januarie vanjaar in die Wilgers-Hospitaal in Pretoria uitgevoer om die vingers van mekaar te skei. Sy regterhandjie se vingers het na die operasie goed herstel, maar die linkerhandjie s’n wou nie genees nie omdat daar te min bloedvloei na sy ringvinger was. Die vingertjie het swart geword en kon nie gered word nie, en Keagan moes op 14 Februarie ‘n dringende opvolgoperasie ondergaan om dit te amputeer.

Sy ouers het nie ‘n mediese fonds nie maar kon vir sy eerste operasie by ‘n private hospitaal betaal met hul eie spaargeld, en danksy skenkings van goedhartige individue en sakeondernemings soos die Gas Monkey Boksburg Foundation.

Vaalweekbladlesers het fluks bygedra en sowat R4 000 vir die tweede operasie ingesamel, en ‘n Vaaldriehoekse prokureur, mnr. Charl Kruger, het die uitstaande bedrag van R35 000 geskenk sodat die amputasie-operasie kon voortgaan.

Hoewel die amputasie ‘n sukses was, moet nóg ‘n operasie nou in September by die Wilgers-hospitaal uitgevoer word om ‘n staaldraadjie in Keagan se kromgetrekte middelvingertjie te plaas en dit reguit te dwing. ‘n Verdere skeiding tussen die krom vingertjie en die plek waar die ringvinger verwyder is, gaan ook gedurende dié sensitiewe prosedure gemaak word, en ‘n veloorplanting sal dan ook daar uitgevoer word.

Die operasie moet so gou as moontlik gedoen word om te verseker dat Keagan as volwassene die beste moontlike gebruik van sy hand sal hê.

Dit gaan na verwagting sowat R52 000 kos, ‘n bedrag wat sy ouers so gou as moontlik moet insamel om vooraf vir die operasie te kan betaal.

Enigiemand wat die gesin en die kleinman graag geldelik wil ondersteun, kan ‘n inbetaling doen in die volgende rekening: Capitec, rekeningnaam: M. Maritz, rekeningnommer: 1545476851 (Spaarrekening).

 

Keagan se kromgetrekte middelvingertjie wat nou tydens ‘n operasie reguit gedwing gaan word.

 

 

Foto bo – So het die wond waar Keagan se ringvinger verwyder is, kort na die operasie gelyk.

 

 

*********************************************************************************************************************

Back to top button