HealthLifestyleLocal newsNews

Na talle terugslae kyk klein Nolan en sy ouers nou vorentoe

"Ons het met my 20-weke sonar uitgevind dat hy 'n gesplete lippie gaan hê, maar dit was nie al nie: Die dokter kon op die sonar sien dat Nolan se serebellum, die deel van die brein wat veral met koördinasie, beweging en visie te doen het, te klein meet."

Die geboorte van ‘n baba is ‘n wonderwerk waaroor ‘n mens net in verwondering kan staan.  En as jou kleinding met gesondheidsprobleme of ander uitdagings gebore word, is die liefde en beskermingsdrang só omvattend dat jy tot aan die einde van die wêreld sal loop vir jou spesiale mensie.

Dít is die geval met Dean en Jessica Marais van Vanderbijlpark, wat reeds die hoogtepunte en diepe smart wat met ouerskap gepaard kan gaan, ervaar het.

Op 17 November 2020 is hul eerste seuntjie, Daniel, vroeg gebore – op net 27 weke van swangerskap. Klein Daniel het vyf maande lank in die hospitaal bly veg, maar sy stryd op 7 April 2021 weens sepsis verloor. Sy ouers het nooit die voorreg gehad om hom huis toe te bring nie.

In Mei 2021 het Jessica weer swanger geraak – weer ‘n seuntjie, Nolan.

“Ons het met my 20-weke sonar uitgevind dat hy ‘n gesplete lippie gaan hê, maar dit was nie al nie: Die dokter kon op die sonar sien dat Nolan se serebellum, die deel van die brein wat veral met koördinasie, beweging en visie te doen het, te klein meet. Op 22 weke het ons ‘n spesialis in Pretoria gaan sien, waar Nolan se serebellum die omtrek van ‘n 18-weke fetus gehad het. Die spesialis het die moontlike diagnoses aan ons gegee en aanbeveel dat ons my swangerskap liewer beëindig,” sê Jessica.

Dit was ontstellende nuus, maar die ouerpaar het aangedring op ‘n verdere ondersoek. Op 29 weke het hulle ‘n MRI-toets (Magnetic resonance imaging) laat doen en moes tot op 34 weke van swangerskap wag vir die uitslae. Die nuus was verblydend: hoewel Nolan se gesplete lippie bevestig is, was sy verhemelte nie geaffekteer nie en geen ander opsigtelike afwykings is waargeneem nie. Nolan is toe op 13 Januarie vanjaar met ‘n keisersnee in die wêreld gebring – op Mamma Jessica se verjaardag.

“Hy het van kleins-af baie gesukkel om gewig op te tel en ons moes hom in ‘n stadium forseer om meer te drink. Met dié het Nolan sy bottel begin assosieer met trauma en hy wou glad nie drink terwyl hy wakker was nie. Hy het net met refleksbewegings gedrink terwyl hy slaap. Soos wat hy ouer geword het, het dit moeiliker geraak om hom te laat slaap om te drink. Ons kon sien dat hy gewig verloor en het hom laat opneem. In die ses dae wat hy in die hospitaal was, is allerhande toetse gedoen, insluitend ‘n MRI-, allergie-, refluks- en  chromosoomtoets.”

Hoewel hy daarna met refluks gediagnoseer is, is geen allergie of chromosoom-afwyking gevind nie, maar daar was ook slegte nuus: Die MRI-toets het getoon dat Nolan se hele brein kleiner is as wat dit moet wees en stadig groei. Nóg kommerwekkende nuus was dat hy ‘n sist het wat drukking op die regterkant van sy serebellum plaas, wat kan veroorsaak dat hy ‘n ontwikkelingsagterstand gaan hê.

Nolan het medikasie vir sy refluks gekry, sowel as aanvullers by sy formulemelk sodat hy gewig kon optel. Hoewel dit die ouers R2 000 per maand ekstra sou kos, was daar lig aan die einde van die tonnel. Dit was steeds ‘n beproewende tyd omdat hy nog te stadig gewig opgetel het en nie wou drink nie.

En toe kom die volgende uitdaging: Nolan se gesplete lippie moes in Junie met ‘n operasie reggestel word. Na die operasie was daar weer die een na die ander terugslag. Hy het duidelik baie pyn gehad, kon nie drink nie en het aanhoudend geskree. Sy ouers kon sien hoe hy verder gewig verloor. En toe trek die operasiesteke boonop los. Na baie dae en nagte van frustrasie, geduld en suiwer wilskrag van die moeë ouers en ‘n ewe uitgeputte Nolan, is hulle nou oor die ergste.

“Ons dieetkundige het Nolan op ‘n nuwe formule gesit, wat ‘n ander tipe vet bevat. Hy doen fantasties op die nuwe melk. Hy het nou sy bottel begin drink en sit gewig aan sonder aanvullers,” sê Jessica.

Nolan se lippie het mooi genees maar dit is nog onseker of hy verdere operasies sal moet ondergaan. Vir nou gaan alles egter goed. “Ons dank die Here ons kind is normaal en bereik al sy mylpale op tyd, en sommige selfs vroeër. Mens sal nooit sê dat daar iets fout kan wees nie,” sê ‘n dankbare Jessica.

Dean en Jessica Marais het die afgelope ses maande deur diep waters gegaan met hul seuntjie, Nolan, maar die kleinman maak nou uitstekende vordering.  Die foto’s hier onder is voor sy operasie geneem.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Foto onder: ‘n Maand na Nolan se operasie om sy gesplete lippie te heg, is hy nou vol glimlaggies.

 

Foto onder: Dean en Jessica se eerste seuntjie, Daniel, wat ‘n paar maande na sy geboorte gesterf het.

 

KYK NA DIE VIDEO OM TE SIEN HOE DIT NOU MET KLEIN NOLAN GAAN:     https://www.youtube.com/shorts/QIYMGqH66i8

 

*******************************************************************************************************************

Back to top button