HealthLifestyleLocal newsNews

CB EMS: Unieke ambulansdiens vorm deel van sekuriteitsdiens

Bewaar gerus CB EMS se beheerkamer-noodnommer: 010 020 6350.

 

CB Security is al 15 jaar bekend as ‘n persoonlike beskerming- en sekuriteit-diensverskaffer sowel as ‘n geakkrediteerde vuurwapen-opleidingsentrum in die Vaaldriehoek. Nou is ‘n nuwe diens hierby gevoeg: CB EMS (Emergency Medical Service), met ‘n goed toegeruste ambulans.
Dit is die eerste sekuriteitsdiens in die Vaaldriehoek wat ook ‘n ambulansdiens verskaf en is ingestel deur mnr. Coert Erasmus, ‘n jarelange inwoner van die gebied.

Nadat Coert in 1990 aan die HTS Vereeniging gematrikuleer het, het hy op 14 Januarie 1991 by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangesluit. Hy het tot die rang van inspekteur (adjudant-offisier) gevorder totdat hy in Maart 2002 bedank het om ‘n nuwe loopbaan in die private sekuriteitsektor te beproef.

Hy het aanvanklik vir ‘n private maatskappy gewerk, waar hy vinnig sy voete gevind het danksy sy jarelange ervaring in die polisie. Hy was ook by die verskaffing van sekuriteit in die casino- en hotelbedryf betrokke voordat hy Suid-Afrika ‘n tyd lank verlaat het om in Sierra Leone in Wes-Afrika te gaan werk. Daar het hy sy ervaring en kundigheid verder uitgebrei terwyl hy by sekuriteitsdienste vir ‘n diamantmyn in die Cono-distrik betrokke was.

Terug in Suid-Afrika was hy gemoeid met sekuriteit en beskerming by die Emerald Resort & Casino totdat hy in 2007 bedank het en saam met sy vriend Hendrik Botha hul eie maatskappy, CB Security Solutions, gestig het. Dié onderneming, met verskeie bedrywighede en vertakkings, is steeds sterk aan die gang.
Altyd op die uitkyk vir iets nuuts het Coert in 2017, terwyl hy op reis was in Mpumalanga, opgemerk dat daar heelwat private ambulansdienste op die paaie was wat ook deel van sekuriteitsmaatskappye in daardie gebied is.

“Dit is toe dat ek besluit het ek wil ook ‘n ambulansdiens in die Vaaldriehoek verskaf. Met my navorsing het ek gevind dat hier net sowat vier private ambulansdienste in die Vaal is, met ‘n groot behoefte aan nóg. Dit is weer eens in die Covid-pandemie bevestig. So is ons ambulansdiens, CB EMS, gebore,” sê Coert. Die maatskappy se goed toegeruste ambulans word deur deeglik opgeleide, ervare paramedici wat almal by die Health Professions Council of South Africa (HPCSA) geregistreer is, beman. Die gebiede wat bedien word sluit Vereeniging, Vanderbijlpark en Meyerton in.

“Ek en my span is oortuig dat ons ‘n aanwins gaan wees vir die Vaaldriehoekse gemeenskap. Ons is baie opgewonde en sien uit na die toekoms. Ons glo in onsself en in CB EMS! Ons is bereid om hard te werk en ‘n professionele diens te lewer vir ons mense in nood – waar en wanneer hulle ons ook al nodig het.”
Bewaar gerus CB EMS se beheerkamer-noodnommer: 010 020 6350.

  **********************************************************************************************

Back to top button