HealthLifestyleLocal newsNews

Zelda was laaste baba in die ou hospitaal en eerste pasiëntjie in die nuwe

Hoewel die Vereeniging/Kopanong-hospitaal soos ander staatsinstansies soms onder kritiek deurloop, is hier nog talle van die verpleegkundiges, dokters en ander mediese personeel wat ‘n toegewyde diens probeer lewer.

VEREENIGING VIER VANJAAR SY 130STE BESTAANSJAAR. VAALWEEKBLAD KYK VANJAAR TERUG NA DIE INTERESSANTE MENSE EN GEBEURE WAT DIE STAD HELP VORM HET:

Soos in enige ontwikkelende dorp het Vereeniging se inwoners in die beginjare soms mediese hulp benodig, en babas het natuurlik ook toenemend hul opwagting gemaak.

Teen 1920 het die dorp al ‘n voltydse stadgeneesheer, dr. William Chapman, gehad maar dit was eers in 1934 dat ‘n volwaardige hospitaal teen 18 000 pond in Krugerlaan aan die westekant van die dorp gebou is. Daar was plek vir net 20 pasiënte en kort na die inwyding het die stadsvaders besef dat dit heeltemal ontoereikend vir die groeiende inwonertal sou wees. Die hospitaal is voortdurend vergroot en teen 1963 was daar al plek vir 200 wit en 150 swart pasiënte.

Die behoefte aan mediese dienste het so uitgebrei dat ‘n nuwe hospitaal in 1965 teen ‘n koste van R2.5 miljoen in Duncanville gebou is. Dit is op 1 Desember daardie jaar in gebruik geneem, hoewel dit eers in 1966 amptelik geopen is.

Vaalweekblad het destyds berig dat Zelda Mc Geer op 1 Desember 1965 die laaste baba was wat in die ou hospitaal gebore is voordat die deure finaal gesluit het. Sy en haar ma is direk na haar geboorte per ambulans na die nuwe hospitaal vervoer, waar Zelda die eerste pasgebore baba was. Sy het in Vereeniging grootgeword en hier gewoon tot 1985 toe sy met Tony Farrell getroud is. Sy is nou 56 en woon in Piet Retief, hoewel sy nog dikwels terugverlang na haar sorgelose kinderjare in die Vaaldriehoek.

Vereeniging kan vandag met topgehalte private mediese dienste en uitmuntende private hospitale spog, maar 1966 se “nuwe” provinsiale hospitaal bestaan steeds onder die naam Vereeniging-Kopanong Hospitaal.

Hoewel die hospitaal soos ander staatsinstansies soms onder kritiek deurloop, is hier nog talle van die verpleegkundiges, dokters en ander mediese personeel wat ‘n toegewyde diens aan duisende staatspasiënte probeer lewer.

 

Zelda Mc Geer was die laaste baba wat in Vereeniging se ou hospitaal gebore is.
Zelda (Mc Geer) Farrell is vandag 56 en dink met genoegdoening terug aan haar kinderjare in Vereeniging.
Zelda se ouers, Willem en Janette Mc Geer, was jarelange inwoners van Risiville.
So het Vereeniging se ‘nuwe’ hospitaal in 1966 gelyk.
Werknemers staan hier voor Vereeniging se eerste hospitaal in Krugerlaan, wat in 1934 in gebruik geneem is. Nadat die hospitaal in 1966 gesluit is, is dit nog ‘n tyd lank as kantore gebruik. Dit het mettertyd bouvallig geraak en is deur daklose mense betrek.

******************************************************

Back to top button