CommunityLifestyleLocal newsNews

‘Ek groet my dorp maar ‘n deel van my hart bly hier agter’

Marietjie van der Walt se inspirerende inisiatiewe in Sasolburg het in die afgelope 30 jaar al tot wyd in die Vrystaat en Vaaldriehoek uitgekring.

SASOLBURG. – Met die geboorte van Marietjie van der Walt op 11 Januarie 1951 in Reitz was daar sekerlik meer sonskyn, meer klank en meer pret in die Vrystaat, want waar die bedrywige Marietjie is, daar is altyd aksie!

Dié vrou, wat op 71 nog die geesdrif en blink oë van ‘n tiener het, het in die daaropvolgende jare ook talle bydraes in Sasolburg gemaak. Baie daarvan het tot diep in die Vrystaat uitgekring.

Marietjie (gebore Jansen van Rensburg) het in 1957 saam met haar ouers na Sasolburg verhuis, waar sy as leerling van die Primêre Skool AJ Jacobs en Hoërskool Sasolburg die dorp se begindae en groei beleef het.

“Ek het ‘n wonderlike kindertyd gehad; daar was mooi parke, baie speelplek en die strate was veilig. Ons het onder in Papenfussstraat gebly, naby waar die Coney Island-winkelsentrum vandag is. Daar was ‘n groot bloekombos waar baie van my voetspore gelê het,” onthou sy.

Na matriek het sy ‘n BA-graad in Kommunikasiekunde behaal en in 1970 met haar eerste man, Gert van den Berg, getrou. Na sy dood in 1987 het sy haar verdriet verwerk deur by gemeenskapsdiens betrokke te raak. Dit het vroeg in die 1990’s gelei tot die stigting van die Gemeenskapskas, vandag bekend as LUSA. Sy het ook deur haar kerk, die Hervormde Kerk Sasolburg, by die bejaardes van die Van Riebeeck-sentrum ingeskakel en in die volgende 30 jaar vreugde in duisende senior burgers se lewe gebring met haar opwindende sosiale programme.

Deur die Sasolburgse Senior Klub was sy tussen 1998 en 2018 veral betrokke by die organisering van hul onvergeetlike bustoere na die Oos-Transvaal, Badplaas, die Suidkus en Noordkus, waarheen sy 60 toerlede per keer geneem het. “Die bejaardes het so diep in my hart ingekruip. Ons het wonderlike tye saam beleef,” onthou sy.

Lewenslange hegte vriendskappe is gesluit en baie vreugdes is gedeel, maar daar was ook dae van verdriet, soos wanneer sy langs die sterfbed van baie van haar ou maters help waak het.

Haar liefdevolle hart was nie beperk tot aandag aan die ouer geslag nie. In 2001 was sy saam met ds. Willem Botha, Vrystaat Welsyn (vandag Ingo) en die Gemeenskapskas instrumenteel om twee kinderhuise/jeugsorgsentrums in Sasolburg te stig – ‘n aksie waarby sy meer as 15 jaar betrokke was. Die goeie werk wat in die afgelope 20 jaar al hier gedoen is, is legendaries.

Met haar groot betrokkenheid by die gemeenskap en wye kontakbasis was dit net ‘n kwessie van tyd voordat politieke partye Marietjie in die vroeë 2000’s sou nadertrek om betrokke te raak en ook op dié gebied ‘n verskil in Sasolburg te maak. Sy is in 2006 as raadslid vir Wyk 17 verkies en met die volgende verkiesing in 2011 herverkies.

“Ek het my wyk geken en baie ure en dae van my lewe hiervoor gegee. Ek het baie hard gewerk, maar dit was vir my lekker en ek glo ek het ‘n verskil gemaak.”

Haar liefde vir die kunste het ook nie agterweë gebly nie. Sy het in die afgelope 30 jaar talle vertonings met van die land se bekendste sangers by die Etienne Rousseau-teater aangebied en is tot vandag toe nog goeie vriende met baie van hulle.

Na 22 jaar wat sy die pad alleen as weduwee gestap het, is sy in 2009 met Pierre van der Walt (nou 75) getroud. “Ons troudag was onvergeetlik… daar was meer as 500 mense in die kerk. Sasolburg se gemeenskap het my 100% ondersteun met ons huweliksbevestiging.”

Teëspoed het die egpaar getref toe Pierre in 2017 ‘n beroerte gehad het, maar hulle stap die pad saam en ondersteun mekaar. “Dit is wonderlik om nog saam te kan wees,” sê Marietjie.

Sy is ook ma van ‘n 43-jarige seun en trotse ouma van kleindogter Cheree (12) en kleinseun SP (15). “Hulle besit my hele hart,” sê dié trotse ouma.

En nou het dit tyd geword om Sasolburg te verlaat: Op 11 Julie verhuis die egpaar na Featherwoods Estate in Pretoria-Oos.

“Ek sien baie uit na die nuwe hoofstuk in ons lewe, nuwe vriende en nuwe uitdagings, maar ‘n groot deel van my hart bly by Sasolburg en sy mense agter,” sê Marietjie. Sy groet met dié boodskap: “Gaan aan met die lewe en wees ‘n seën vir ander”.

 

Marietjie van der Walt, gemeenskapswerker en rolmodel vir baie.

 

**********************************************************

Back to top button