HealthLifestyleLocal newsNews

Jurie kry lankverwagte operasie en sterk nou tuis aan

Na 'n aanvanklike terugslag begin dit nou al beter gaan.

VANDERBIJLPARK. – Jurie Edwards (51), die man wie se been einde Februarie op twee plekke sleg gebreek is in ‘n motorfietsongeluk, het na 10 weke se wag uiteindelik ‘n noodsaaklike operasie gekry sodat sy herstelpad kan begin.

Vaalweekblad het onlangs berig dat Jurie op Vrydag, 25 Februarie, met sy motorfiets van die werk af op pad huis toe was toe hy in Evereststraat deur ‘n speurder wat van diens af was, se bakkie getref is. Met impak is Jurie se linkerbeen tussen sy motorfiets en die bakkie vasgeklem. Buiten vir verskeie ander beserings en oop wonde is sy been op twee plekke gebreek.

Hoewel hy veloorplantings aan die oop wonde in die Sebokeng-hospitaal ontvang het, was sy gebreekte been na 10 weke nog nie geopereer en met penne geheg nie. Van sy wonde was in daardie stadium reeds geïnfekteer. Die rede vir die vertraging was volgens die hospitaal dat die teaterlyste baie lank was en teaterverkoelers nie altyd gefunksioneer het soos dit moes nie.

Die operasiedag het uiteindelik op 6 Mei aangebreek en die frakture in Jurie se been is met metaalpenne in lyn gebring. Dit was egter nog nie die einde van sy terugslae nie. Hy het ernstige bloedverlies tydens die operasie gehad en weens komplikasies moes hy daarna vir ‘n paar dae in die hoësorgeenheid deurbring. Hy het egter so goed herstel dat hy reeds ontslaan kon word en nou tuis aansterk.

“Tot dusver is daar nie probleme met my been nie, so dit lyk of die operasie ‘n sukses was. Ek het nie meer so baie pyn nie en dit gaan elke dag beter,” het Jurie hierdie week gesê. Hy mag eers ses weke na die operasie op sy been begin trap en intensiewe fisioterapie ontvang. Intussen kom hy met krukke en ‘n rolstoel oor die weg, hoewel hy meeste van die tyd nog lê.

Die steke sal binnekort verwyder kan word en x-strale sal ook geneem word om te verseker dat die been reg aangroei. Hy sien baie daarna uit om ten volle te herstel sodat hy sy werk as ketelmaker by ‘n plaaslike onderneming kan hervat.

OPDATERING OP 3 JUNIE: Jurie sê dit gaan nou sommer al baie beter. Die pyn is minder en hy begin oefen die stywe spiere, maar sal eers op 6 Julie amptelik met fisioterapie mag begin. “Die steke is nou ook al uit en die wonde lyk baie goed,” sê hy.

 

Mnr. Jurie Edwards is dankbaar dat hy uiteindelik sy operasie kon kry en nou sy herstelpad kan aanpak.

 

Die x-strale toon waar Jurie se llinkerbeen op twee plekke gebreek is.

 

Jurie Edwards waar hy op 25 Februarie op die ongelukstoneel behandel is. Foto: Verskaf

*************************************************************************************

Back to top button