AmusingBusinessLifestyleLocal newsNews

‘n Dooie olifant was dié egpaar se Cupido!

Vier ure nadat Steve vir Alexandra ontmoet het, het hy haar ma gevra of hy met haar mag trou!

Om Vereeniging se 130ste bestaansjaar te vier, berig  Vaaweekblad vanjaar oor die legendariese mense uit ons streek se ou dae…

Vereeniging het van sy vroegste dae af ‘n heenkome gebied vir werksoekers – nie net vir Suid-Afrikaners nie maar ook vir immigrante uit Europa wat hier ‘n nuwe toekoms wou vind. Baie van dié immigrante het uiteindelik bekende en suksesvolle inwoners van Vereeniging geword en ‘n groot bydrae tot die dorp (en later stad) se ontwikkeling gemaak. Baie van hul derde- en vierdegeslag nasate is vandag steeds hoogs gerespekteerde sakemense wat ‘n reuse-bydrae tot Vereeniging se ekonomie en kultuurlewe maak.

Een so ‘n familie is dié van wyle Haralambos Katrakilis, aanvanklik ‘n arm skrynwerker wat in 1948 saam met sy gesin vanaf die Griekse eiland Limnos na Suid-Afrika geïmmigreer het. Teen 1956 het hy genoeg geld gespaar om ‘n klein kafee op die hoek van Voortrekkerstraat en Livingstonelaan oop te maak: die Park Gate Cafe.

Sy seun, Steve (Stamo) was maar 7 toe hy saam met sy ouers hier aangekom het en kon aanvanklik geen Engels of Afrikaans praat nie. Na sy skoolopleiding aan Genl Smuth High School het hy in 1962 sy vakleerlingskap as motorwerktuigkundige voltooi. Hy het uiteindelik ‘n “Master Technician” geword, wat in later jare legendaries in die streek was vir sy uitsonderlike kennis van motorenjins.

Die jong Steve se lewe het in Februarie 1964 ‘n interessante wending geneem toe ‘n olifant iewers in Afrika voor ‘n trein beland het. Die trein is vir twee dae opgehou terwyl daar gespook is om die dooie dier van die spoor af te kry. Onder die passasiers was ‘n Griekse ma en haar jong dogter uit die Kongo, wat op pad was na ‘n troue in Suid-Afrika. Die Griekse gemeenskap in Suid-Afrika het ‘n hegte netwerk, en toe dit bekend word dat die ma en dogter gestrand sit, het Pa Haralambos vir Steve opdrag gegee om die vroue te vind en per motor na Suid-Afrika te bring.

Steve het die ma en dogter opgespoor en toe die jong Alexandra van die trein afklim, was hy dadelik verlief! Vir Alexandra was dit ook liefde met die eerste oogopslag. Steve het net geweet hy gaan met dié meisie trou. Vier ure later het hy Alexandra se ma om haar hand gevra en in Mei daardie jaar is hulle getroud.

In 1970 het Steve die perseel wat vandag as Four Way Centre in Drie Riviere bekend staan, gekoop met die droom om dit as ‘n motorhandelaar, ‘n vulstasie en klein kafee te ontwikkel. Daar was nog geen ander besighede of woongebiede in die omgewing nie en die Heidelberg/Vaaldam-pad was nog nie geteer nie.

Sy droom is bewaarheid toe die sentrum, bestaande uit ‘n Total-vulstasie, ‘n motorwerkswinkel en Four Way Superette (later ‘n Kwik Spar-franchise) op 13 April 1972 amptelik geopen kon word. Steve het die agentskappe vir Jaguar, Rover, Mini, MG, Triumph en Land Rover gekry en in 1986 ook Renault by die lys gevoeg.

Weens die politieke situasie in Suid-Afrika het baie fabrikate onttrek en teen 1988 het net Land Rover oorgebly. Teen 2008 was Jaguar en Volvo ook terug by Four Way.

Die Four Way Groep is deur die jare agt keer as Land Rover se Dealer of the Year aangewys en is ook ‘n hele paar keer met Total se ooreenstemmende toekenning vereer. Die motoragentskappe is later aan Super Group verkoop en B & R Hardware het ingetrek.

“My ouers het byna dag en nag hard en gedissiplineerd gewerk,” onthou Harry Katrakilis, wat sy oorlede oupa se naam dra. Hy was van kleins af deel van die onderneming en het reeds as seun pompjoggie gespeel, help rakke pak en vloere was. In 1988 het hy amptelik by sy ouers in die onderneming aangesluit. Dit was kosbare jare wat hy vir niks sou verruil nie. Albei sy ouers is reeds oorlede; Ma Alexandra op 1 Januarie 2018 en Pa Steve op 8 Maart 2021. Albei sal altyd onthou word vir die enorme bydrae wat hulle in Vereeniging gemaak het en ook vir die hulp wat hulle agter die skerms verleen het om die lewe van baie inwoners te verbeter.

Vandag sit Harry, bygestaan deur sy prokureur-vrou Monica, sy ouers se werk voort om ‘n positiewe verskil in Vereeniging te maak.

 

Argieffoto: Harry Katrakilis van die Four Way Group by sy ouers, wyle mev. Alexandra en mnr. Steve Katrakilis.

 

Four Way Centre soos dit in die vroeë 1980s gelyk het.

***************************************************************************************************

Back to top button