Local newsNewsNews

Wikus Victor en skryf is soos koffie en boerbeskuit

Ontmoet Wikus Victor, een van die Vaal se beste skrywers.

SASOLBURG. – Wikus Victor en skryf gaan saam soos koffie en boerbeskuit. Hy skryf al van kindsbeen stories. Lekkerlees avontuurverhale. In sy jongerdae het hy jeugboeke geskryf. “Ek dink daar is so stuk of 12”, vertel hy, “die meeste speel af in ander lande en bevat baie avontuur.”

Een van sy beste Kersgeskenke as kind was die hele Uile-reeks deur Cor Dirks. Die boeke is nou nog deel van sy boekversameling. Onder die jeugboeke wat hy geskryf het tel Avontuur in die Vreemde, Geheim van die Skedel en Die Raaisel van die Bobbejaanklou.

Dan was daar ook vele vakkundigeboeke wat hy destyds geskryf het om graad 4’s en 5’s met hul werk te help. “Dit was in die jare voordat alle inligting so maklik bekombaar was op die internet,” verduidelik hy.

Die meeste skryfwerk uit sy pen was egter in die vorm van radiovervolgverhale. Hy het heelwat radiodramas daardie jare vir die Afrikaanse Diens geskryf en later ook vir RSG. Dit sluit in Sneltrein 116, Die ver somer, ‘n Nuwe môre, Gister is vandag en Die nag van die wolf.

Wikus het in Kaapstad grootgeword en na matriek sy teologiegraad aan Maties verwerf. Sy eerste gemeente was in Lüderitz in die dae voor Namibië se onafhanklikheid. Dis ook hier waar hy sy eerste radiodramas begin skryf het. “Die dramas is nie net in Suid-Afrika uitgesaai nie, maar ook in Namibië. So is ek twee keer vir dieselfde werk betaal,” lag hy lekker.

Na sy terugkeer na Suid-Afrika, het hy eers as boekredakteur vir Perskor gewerk het en later as subredakteur by Die Transvaler. “Die lekkerste van my tyd by die koerant was om mense soos PG du Plessis te kon ontmoet,” vertel hy.

Deurentyd het hy maar aan die skryf gebly, totdat hy met verloop van tyd as finansiële bestuurder by Sasolburg Hospitaal begin werk het. Vir die volgende 25 jaar het hy min geskryf, maar in 2019 het hy op vervroegde pensioen gegaan en het die skrywersgogga weer van vooraf gebyt.

In 2020 het hy met mening weer begin skryf toe die grendelstaat hom binne sy huis se mure vasgepen het. Hy hou nie van stil sit nie en is op sy gelukkigste as hy op reis kan gaan. So het hy in sy lewe al amper 60 lande besoek en daarom speel sy verhale ook meestal in die buiteland af.

Wikus het bevestig dat van sy jeugverhale nog in die plaaslike biblioteke op die rakke gevind kan word onder sy skrywersnaam EB Victor. “Dis lekker as ek in ‘n biblioteek op een van my boeke afkom en sien dis al voos gelees,” sê hy. Dan weet hy mos baie jong lesers was saam met hom op ‘n avontuur-reis deur die blaaie van die boek.

Onthou ook om Wikus se radiodrama, die Krismiswonder te gaan luister by https://www.youtube.com/watch?v=IdYqxxJ0VFg.

Lees ook: https://www.citizen.co.za/vaalweekblad/118435/radiodrama-uit-eie-bodom-luister-hier/

 
Back to top button