Musiekkonserte ten bate van die Klipkerk in Vereeniging

Die Klipkerk in Vereeniging is een van die oudste geboue in die Vaaldriehoek en is in 1993 tot ‘n historiese monument verklaar

VEREENIGING. – Musiekliefhebbers kan uitsien na twee besondere konserte wat in Mei in die ou Klipkerk in Vereeniging aangebied gaan word. Dit vind onderskeidelik op 16 en 23 Mei plaas.

Sedert 2015 word daar jaarliks musiekkonserte of koorfeeste aangebied in die historiese ou kerkgebou in Vereeniging.

Kunstenaars soos Zanta Hofmyer, Wim Viljoen, Richard Cock en vele ander het reeds hier opgetree. In 2020 moes die konsert ongelukkig gekanselleer word as gevolg van die Covid-pandemie, maar vanjaar word die tradisie hervat met die aanbieding van twee konserte om by die Covid-reëls te hou.

Die Klipkerk in Vereeniging is een van die oudste geboue in die Vaaldriehoek en is in 1993 tot ‘n historiese monument verklaar. Die gemeente het in 2012 sy honderdste bestaansjaar gevier. Die sandsteen kerkgebou, ontwerp deur Gerard Moerdijk, is werklik ‘n besondere besienswaardigheid met ‘n pragtige preekstoel en gekleurde loodglasvensters. Die pyporrel, wat destyds vanaf Duitsland ingevoer is, is steeds in sy oorspronklike toestand.

Op 16 Mei kan ligter musiek met liedere uit musiekblyspele en ballades geniet word.

Tydens die tweede konsert op 23 Mei word op gewilde klassieke musiek uit operas en operettes gefokus.

Albei konserte, onder leiding van die bekende Coert Grobbelaar, begin om 15:00.

Die musiekkonserte word aangebied deur die Dameskring van die Vaaldriehoek in samewerking met die Klipkerkgemeente. Alle winste sal aangewend word vir die instandhouding van die kerkgebou. Na afloop van die uitvoerings sal daar koffie, tee en verversings in die kerksaal bedien word.

As gevolg van die Covid-inperking is daar ‘n beperkte aantal kaartjies beskikbaar en sal kaartjies nie soos voorheen ook by die deure te koop wees nie. Die dra van gesigmaskers is verpligting tydens die konserte.

Kaartjies kos R100 vir volwassenes, R50 vir kinders onder 12, en is beskikbaar by die Klipkerk-kerkantoor (mnr. Attie Kotze – 010 025 0190 / 082 412 0528), by Freda de Coning in Vereeniging (084 582 4572) en by Martie Herbst in Vanderbijlpark (082 936 6147).

 

Die historiese Klipkerk in Vereeniging.

*********************************************************************************************************

Exit mobile version