Teken in by #Ons-wil-help-projek as jy jou werk verloor het of werk soek

Die volgende datum is 1 Mei op die hoek van Conradie- en Helena Lochnerstraat in Vanderbijlpark

 

VANDERBIJLPARK. – Carla Cato van Vanderbijlpark is tans besig met ‘n projek om die gemeenskap te probeer help en sodoende ‘n verskil te maak in mense se lewens – en hopelik in hul omstandighede. Die #Ons-wil-help-projek se oogmerk is om mense wat hulle werk verloor het as gevolg van Covid-19 te help om ‘n CV op te stel, asook om hulle CV aan potensiële werkgewers te stuur indien daar ‘n pos beskikbaar is. Mense word dan ook toegerus met die nodige vaardighede om ‘n goeie werksonderhoud te kan voer.

“Die projek het op 17 April 2021 afgeskop en die geleentheid was ‘n groot sukses. Ons is egter van mening dat daar baie mense is wat steeds kan voordeel trek uit hierdie projek, daarom wil ons graag die hele gemeenskap uitnooi om hieraan deel te neem. Die projek sal maandeliks voortgaan en die datums sal maandeliks geadverteer word vir verspreiding,” sê Carla.

Die volgende datum vir die projek is 1 Mei 2021 en sal plaasvind op die hoek van Conradie- en Helena Lochnerstraat, SW1, Vanderbijlpark tussen 10:00 en 14:00. As jy jou werk verloor het of op soek is na werk, kom maak gerus dan ‘n draai.

“Ons sal ook poog om die persone se CVs uit te stuur soos wat ons gepaste werksadvertensies sien, indien hulle aan die nodige vereistes / kriteria voldoen. CVs sal vir 6 tot 8 maande op ons CV databasis gestoor word. Ons wil graag ‘n projek aanpak wat volhoubaar kan wees en dus sal ons ten minste een keer per maand hierna weer ‘n dag uitsit om voort te gaan daarmee.
“Ons vra die gemeenskap om sosiale media platforms dop te hou vir elke maand se datum en plek. Ons sal ook op sosiale media en Vaalweekblad adverteer waar moontlik. Ons beoog om ons gazebo’s elke maand op ‘n ander plek op te slaan ten einde die hele dorp te bereik by gemeenskaplike opslaanpunte,” sê Carla.

Bedrywighede tydens die loodsing van die projek op 17 April in Vanderbijlpark. Foto: Isak Greyling

************************************************************************************************************************************

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version