AmusingNationalNews

Opdatering: Die Vaalrivier gaan NIE verdwyn NIE!

Dankie aan almal wat in ons Gekkedag-pret gedeel het

 

Vaalweekblad se lesers het ons vanoggend laat skater van die lag met julle koddige sêgoed by die berig oor die planne om die Vaalrivier met ‘n nuwe vloeiroete na Parys te herlei.
Soos meeste van julle geraai het, was dit ‘n 1 April Gekkedaggrap. Geen woord hiervan is waar nie!

Mnr. Yusuf Swart van Vereeniging, wat ingestem het om die rol van die “Kubaanse raadgewende ingenieur” te speel.

Die Vaalrivier by Vanderbijlpark en Vereeeniging gaan NIE verdwyn nie. Die rivier bly net waar hy is vir ons almal om te geniet!
Vaalweekblad, die organisasie SAVE the Vaal, en Stonehaven-on-Vaal het besluit om dié onderwerp te kies om meer bewustheid oor besoedeling in die Vaaldriehoek te bring.
Die idee vir die grap het ontstaan by MooiVaal Media (Vaalweekblad/Ster) se hoofbestuurder, Thys Foord. Die idee is verder uitgebou saam met Chilli PicNic se fotograaf Nicky J. van Vuuren, wat die foto’s geneem en die kaart van die “nuwe Vaalrivier” ontwerp het.
‘n Kombinasie van al die halwe waarhede en pront-uit leuens is deur ‘n verslaggewer in berigvorm saamgestel en die uiteinde was ‘n storie waarmee ons hopelik heelwat lesers gevang het.
Vaalweekblad sê baie dankie aan almal wat vanoggend saamgespeel het, en spesiale dank gaan aan Maureen Stewart van SAVE en Rosemary Anderson van Stonehaven-on-Vaal, wat vooraf ingestem het om deel van die grap te wees.
Ons groot dank gaan ook aan mnr. Yusuf Swart, wat deur ons geboelie is om die rol van die “Kubaanse raadgewende ingenieur” te speel. Sy foto’s, geneem deur Chilli PicNic, het heelwat geloofwaardigheid aan die berig gegee. Yusuf is in werklikheid ‘n dieseltegnikus wat al baie jare in die Vaaldriehoek woon. Dié gesinsman het niks met Kuba te doen nie. Hy is net ‘n bok vir sports wat self ‘n goeie grap kan waardeer.
Ons opregte dank gaan ook aan Marius Dreyer van 90.6FM Stereo, wat die nuus oor die rivier se verskuiwing vanoggend so geloofwaardig op sy ontbytprogram uitgesaai het, terwyl hy goed geweet het dat dit net ‘n grap is.
Nogmaals dankie aan ons lesers. Ons gaan in komende week se papieruitgawe van Vaalweekblad sommige van julle snaakse kommentare publiseer. Deel die berig asseblief steeds en lewer gerus NOG kommentaar oor wat julle van die rivier se verskuiwing gedink het! Lees die oorspronklike (ONWARE) berig by die skakel hier onder:

OPDATERING: GEKKEDAG! Ingrypende planne kom om Vaalrivier in Emfuleni droog te lê

**************************************************************

 

Back to top button