Local newsNewsNews

Oproer in Oranjeville

Hewige protesaksies is besig om Oranjeville in die Vrystaat heeltemal te ontwrig.

ORANJEVILLE. – Protesaksies ontwrig al sedert Maandag, 15 Maart 2021 besigheid in Metsimaholo en Oranjeville.

Maandag het ongeveer 200 mense die dorp se ingange geblokkeer en die dorp ingevaar.

Volgens inwoners en besigheidseienaars in die dorp, wat verkies om anoniem te bly, het die groep mense van Metsimaholo af na die dorp opgeruk.

Van hulle was glo met pangas gewapen en daar is van die besighede se naamborde van die mure geruk. Daarna is die groep terug na Metsimaholo waar die protesaksie voortgesit is.

‘n Inwoner sê hulle kon hoor hoe skiet die polisie rubberkoeëls in ‘n poging om die skare uitmekaar te dryf. Die protesoptrede het Dinsdag voortgeduur.

Daar is blykbaar  heelwat skade oornag in Metsimaholo aangerig. Woensdagoggend is daar weer na die dorp opgeruk. Paaie is afgesper met groot klippe en brandende bande.

Die protesaksie is as gevolg van die vuil water toevoer in die dorp. Oranjeville en Metsimaholo het al geruime tyd water probleme.

Die oproerige skare betoog in Oranjeville op 17 Maart 2021. Foto: Verskaf

Inwoners sê die dorp se waterdruk is uitermatig swak en hulle is kort-kort sonder water deur die dag.

Is daar wel water, is dit bruin en ondrinkbaar. Van die inwoners ry weekliks deur Vanderbijlpark toe om drinkwater aan te koop.

Motorbande word in die pad gebrand om seker te maak niemand kan die dorp inkom nie. Foto Verskaf

Almal is dit eens dat hulle net verskonings, maar geen oplossings ontvang nie. “Dis so ironies, daar lê die Vaaldam vol water, maar ons het geen water nie,” het ‘n inwoner moedeloos gesê.

Die polisie het in ‘n kort verklaring op 15 Maart 2021 die protesaksie bevestig en gesê dat die Sasolburg se Openbare Orde Polisie eenheid daarheen ontplooi is. Sedertdien het die polisie nog nie weer op verdere navrae gereageer nie.

Back to top button