AmusingLocal newsNews

Dié ongedissiplineerde pa kry vandag geen Vadersdaggeskenk nie!

Wie het raad om Vadersdag-vreugde in dié huishouding te bring?

Hoe gemaak as ‘n pa hom te buite gaan aan sy jaarlikse Vadersdaggeskenk en hy weens sy eie ongedissiplineerdheid nie vandag sy geskenk soos in die afgelope 39 jaar mag kry nie?

‘n Leseres van Vanderbijlpark skryf:

Na 39 jaar van relatief gelukkige samesyn is my ou man en ek nog uitgespaar, al het ons ‘n klompie oumenskwale.

Moedersdag is nie iets wat in ons huis gevier word nie – hoewel manlief DALK die skottelgoed sal was. En siende dat dit ELKE dag Vadersdag in ons huis is, word dié amptelike dag ook nie juis groot in ons huis gehuldig nie. Tog het ek van die eerste jaar van ons saamwees af, elke jaar op Vadersdag vir Pa ‘n blikkie kondensmelk gekoop want buiten een of twee ander vreugdes, is dit sy idee van Hemel op Aarde om ‘n blikkie kondensmelk te loop en uitsuig.

Alles het goed gegaan tot net voor Vadersdag verlede jaar, toe die dokter my ou man met hemelhoë bloeddruk gediagnoseer het en kwaai aangespreek het oor sy liefde vir soetgoed. Blykbaar jaag dit sy bloeddruk lewensgevaarlik op.

Verlede jaar met Vadersdag kry Pa toe weer sy blikkie kondensmelk, maar met my dringende waarskuwing dat hy moet belowe om ge-lei-de-lik daaraan te teug (amper soos ‘n staaaaadige Leeuloop) omdat ek hom nie voortydig weens ‘n oordosis suiker na die Ander Kant toe wil oorhelp nie.

Pappa het toe (met ‘n eerlike, priesterlike gesig) sy blikkie, wat in voorlaasjaar se oorblywende Kersfeespapier toegedraai was, by my geneem en kopknikkend en opreg belowe om homself in te hou en spaarsaam daarvan te gebruik sodat dit darem so drie dae kon hou. Die wilde uitdrukking in sy oë en die geweld waarmee die geskenkpapier afgeruk is, moes vir my ‘n teken gewees het…. ‘n Halfuur later het ek gehoor hoe die leë blikkie in die kombuisasblikkie val.

Ek het hom belowe dit is die einde…. Die laaste keer ooit wat hy ‘n soete suigie by my sou kry! Maar ek het toe al geweet sy kostelike, skuldige gesig gaan my ‘n jaar lank bybly en dat ek vanjaar op Vadersdag dalk weer sou swig en hom maar weer sou bederf.

Sy blikkie vir Vadersdag 2020 staan nou gereed, weggesteek binne-in die swart driepootpot, maar ek is verskeurd. Moet ek dit vir hom gee en hom vertel hy is die beste pa wat ek ooit vir my drie kinders kon kies, en dan stuur ek sy bloeddruk deur die dak, of moet ek dit liewer net daar los en probeer verduidelik dat ek te veel vir hom omgee om sy soetigheidjie vir hom te gee?

Hoe kan ek maak om hom met sy selfdissipline te help? Ek het al daaraan gedink om die kondensmelk bietjie-vir-bietjie, dag-vir-dag oor ‘n 3-dae tydperk in ‘n tietiebottel te giet en die tiet groter oop te sny sodat hy dit in “vervolgverhale” kan uitsuig, maar dit klink darem net te “weird”.
Het dit selfs al oorweeg om dieselfde te probeer doen met ‘n kondoom, maar ek sal my doodskaam om spesiaal hiervoor Clicks toe te gaan! Boonop klink dit ook ‘n bietjie “weird”. En met my geluk staan my baas of onse leraar dalk agter my as ek moet betaal en dan sluk die aarde my net daar in.

So, komaan Vaaldriehoekers, gee tog raad! Hoe kan Pappa vandag sy Vadersdaggeskenk kry sonder dat ek sy lewe (of my respektabelheid) in gevaar stel?

Back to top button