Covid-19 skeiding: Vir dié onnie was die verlange na haar klas vol kinders te groot

.... toe brei Juffrou Ingeborg 'n poppie van elke leerling in haar klas!

 

‘n Gebore onderwyseres (en ons ken baie van julle in ons eie Vaaldriehoek) is mos daardie soort mense wat ‘n kind se donkerste dag in ‘n prettige ervaring vol sonstrale kan omtower. Ons praat nou van daardie soort juffrou wat intense onttrekkingsimptome kry wanneer sy nie voor haar klas kan staan en oogkontak met elke kind kan maak nie.
Een so ‘n juffrou is Ingeborg Meinster-Van der Duin van die Dr. H. Bavinck Skool in Haarlem, Nederland, wat weens die Covid-19 inperking in daardie land, weke lank van haar leerlinge geskei is. Vir Juffrou Ingeborg was die verlange na haar 23 leerlinge net te veel om te verduur.
Maar ‘n goeie juffrou kan mos planne maak, en net daar besluit sy om 23 poppies te brei: een van elke kind, kompleet met detail soos die regte oog- en haarkleur, kleredrag, brille en selfs sproete waar nodig.
Dit het haar tussen 3 en 4 ure geneem om elke poppie te brei en uiteindelik was sy omring deur haar hele klassie.
Sy het ‘n foto van die poppies geneem en dit sonder name na die ouers ge-e-pos om te kyk of hulle hul “poppiekind” kon uitken. Elke ouer en kind het dadelik geweet wie is wie! Op versoek van haar leerlinge het sy toe ook ‘n poppie van haarself gebrei.

Bron: NHNieuws

* Net soos in Nederland, keer ons skoolkinders en onderwysers binnekort terug skool toe. Vaalweekblad se beste wense aan elke skoolhoof, onderwyser, kind en ouer vir die harde werk wat voorlê.

Exit mobile version