Het jy al van Die Varkoor gehoor?

VANDERBIJLPARK. – Wat die 50-jarige Assie van Aswegen met ‘n hammer, ‘n aambeeld en ‘n stuk staal kan uitrig, is werklik iets om te aanskou. Sy kunswerke getuig van ‘n liefde vir staalwerk en bloedsweet wat gevorm en gesmee word, deur ure se hammerswaai en ‘n deursettingsvermoë wat meeste sterflinge as waansin sou bestempel. Die …

VANDERBIJLPARK. – Wat die 50-jarige Assie van Aswegen met ‘n hammer, ‘n aambeeld en ‘n stuk staal kan uitrig, is werklik iets om te aanskou.

Sy kunswerke getuig van ‘n liefde vir staalwerk en bloedsweet wat gevorm en gesmee word, deur ure se hammerswaai en ‘n deursettingsvermoë wat meeste sterflinge as waansin sou bestempel.

Die gesegde lui dat ledigheid die duiwel se oorkussing is, maar in plaas daarvan dat verveeldheid weens ‘n staking in die staalbedryf in 2014 hom tot allerhande onheilige gedryf het, het die muse hom geïnspireer.

Assie van Aswegen

“’n Varkoor was nog altyd vir my ‘n mooi blom en ek wou nog altyd een uit staal gemaak het,” vertel hy glimlaggend.

Hy het sedertdien sy verbeelding vrye teuels gegee en sy versameling sluit nou skoenlappers, landskappe, spinnekoppe en droomvangers en natuurlik jy het reg geraai… varkoorlampskerms in.

Almal wat hom ken sal getuig dat groot dinamiet in klein pakkies kom. As bokser het hy homself laat geld en sy liefde vir marathons en ultra-marathons onderstreep sy ystere wil om moeilike take aan te durf en te voltooi.

Vanjaar sou hy ook die honderd myler aangedurf het, maar weens die Covid-19 pandemie sal die inskrywing op sy te-doen-lysie eers later afgemerk word. Vir nou verskuif sy fokus na sy staalwerkkuns. Hy het onlangs besluit om sy kunswerke op sosiale media te adverteer. – Diegene wat belangstel om sy kunswerke te besigtig of ‘n kunsstuk op aanvraag gemaak wil hê kan Die Varkoor op Faceboek besoek. 

Exit mobile version