AmusingLocal newsNationalNewsBreaking News

Regstelling: ‘Chris en Mary’ is nie getroud nie – en manne mag steeds soen op die rugbyveld!

Lees die waarheid hier!

 

Retha Fitchat

Chris (24) en Mary Bester (74), die pasgetroude paartjie van Vanderbijlpark oor wie Vaalweekblad gister berig het, is nie meer getroud nie….. en nie omdat hul huweliksbootjie gesink het nie, maar omdat hulle net vir die dag – 1 April – deelgeneem het aan Vaalweekblad se Gekkedaggrap.
Die Aprilgrap-idee van die paartjie wat 50 jaar verskil, is reeds voor die inperking uitgedink deur fotograaf Nicky J. van Vuuren van Chilli PicNic, wat die foto’s vir die berig al voor die “lockdown” geneem het.
Chris is in werklikheid André van Niekerk (26), Nicky se susterskind, en Mary is toe al die tyd Rosemary Ludick (71), Nicky se buurvrou, wat ingestem het om vir Gekkedag ‘n “identiteitsverandering” te ondergaan en te “trou”.
Hoewel André en tannie Rosemary goeie vriende is, is daar nie sprake van ‘n romanse of ‘n huwelik nie. André het ‘n vaste (jong) meisie en Rosemary, hoewel sy baie van jong platoniese vriende soos André hou, verkies mansvriende van haar eie ouderdom.
Rosemary is die weduwee van wyle oom Sakkie Ludick, wat sy eie plafon- en loodgietersbesigheid gehad het. Hy was ‘n ou bekende by Vesco in Vanderbijlpark en ook baie bekend vir sy wedvlugduiwe. Rosemary self het jare lank by die hof in Vanderbijlpark gewerk maar geniet nou haar pensioenjare.
Vaalweekblad se personeel kon nie help om ons te verlekker in ons lesers se kommentaar by gister se berig nie…. Sommige was sommer net plein katterig en platvloers, en ander het dadelik vermoed dat dit ‘n Aprilpoets moet wees, maar die romantiese siele met sagte harte het die “verliefde egpaar” ‘n lang en gelukkige lewe toegewens en begrip daarvoor gehad dat die liefde soms struikelblokke soos ‘n groot ouderdomsverskil kan oorwin.  Suzette Davids het gesê: Net die mooi vir julle tweetjies met die jare vorentoe…. en Martha Jordaan skryf: “Jou hart laat hom nie voorskryf wie om lief te hê nie. Ware liefde is nie rykdom of ouderdom nie. Ouderdom is net n getal. Gun die 2 mense geluk.”

Ons het selfs vir Huisgenoot uitgevang, wat graag ‘n onderhoud met die paartjie wou doen!

 

Dan was daar ook kommentare soos dié waaroor ons gerol het soos ons lag….

Zas van Heerden: Noem sy ma sy vrou tannie?

Charlain Botha: Lockdown special – Grab a granny….

Morne Botha: Dis nou wat ‘n mens noem langtermyn-versekering. So verseker hy sy eie toekoms. Pasop net dat die tannie nie ouer as ‘n honderd word nie want dan het jou plan nie gewerk nie!

Andries Visagie: “Bedrewe met die braaier” die rede vir die bynaam (Boerewors)? Ja, duisende sal haar nie glo nie, maar……. Solank die tannie hom nie skei vir Cocktail Sausage Kruger nie. ;-)

Francois Crous: Met die Dominee as Vaaitjie Naudé en ‘n bynaam soos Boerewors Bester, klink dit vir my na ‘n lekker stoute Afrikaanse film wat een van die dae op die skerms gaan wys… Asb. Tannie Mary, moet net nie swanger raak nie, dit is darem nét té voorspelbaar!

En Vaalweekblad kan nie help om saam te stem met Jolene Botha se kort en kragtige kommentaar nie: “Lekker Vanderbijl!”

Ons bly inderdaad in die gebied met die interessantste, lekkerste mense!

(En Rosemary se seuns het die laaste woord: Ons ma kan haar jong eggenoot hou. Sy moet net nie die familieplase in Oos-Transvaal waarvan ons nie geweet het, wegteken nie!)

 

 

Volg die onderstaande skakel en lees ook Vaalweekblad se tweede “April Fool”-berig oor rugbyspelers wat mekaar nie meer op die veld sal mag omhels of soen nie, en voortaan met handskoene sal moet speel. Net soos die berig oor “Chris en Mary” is hierdie een ook heeltemal onwaar.

https://www.citizen.co.za/vaalweekblad/59246/corona-se-gevolge-omhelsing-en-soene-nou-taboe-op-wereld-se-rugbyvelde/

 

Back to top button