Corona se gevolge: Omhelsing en soene nou taboe op wêreld se rugbyvelde

Wêreldrugby-liggaam maak ingrypende aanpassings aan bestaande reëls

 

Rugbygeesdriftiges moes die afgelope tyd daarmee vrede maak dat hulle weens wêreldwye Corona-inperkings ‘n paar weke of maande sal moet wag voordat hulle weer na internasionale wedstryde op die kassie sal kan kyk. Wedstryde sal daar wel weer wees, maar één ding wat toeskouers nooit weer gaan sien nie, is spelers se fisiese omhelsings, soene en lyfknelle om punte te vier.

Dit volg nadat Wêreldrugby (World Rugby), die internasionale liggaam wat rugby wêreldwyd beheer, gister besluit het dat sulke fisiese gelukwensings voortaan taboe sal wees.
Rugbyspelers se gewoonte om op mekaar se rûe te spring, mekaar te omhels of selfs te soen nadat punte aangeteken is, is die afgelope jare gereeld in wêreldrugby en selfs in klub- en skolerugby gesien – ‘n tradisie wat al dekades gelede deur sokkerspelers begin is.

Wêreldrugby se uitvoerende raad het gister tydens ‘n noodvergadering waaraan die raadslede per Skype deelgeneem het, besluit dat die na-Corona-landskap op rugbyvelde heeltemal anders gaan lyk as tans. Dit is nog onbekend wanneer wêreldrugby weer kan voortgaan, maar ingrypende besluite soos dié sal dan in die nuwe internasionale rugbyreëls vervat wees.

Wêreldbekerspelers sal voortaan ook met noupassende handskoene wat tot by die elmboë strek, moet speel om higiëne te bevorder en direkte velkontak met mede-spelers te beperk. Volgens ‘n mediaverklaring deur Wêreldrugby, sal die handskoene van dieselfde hoë-tegnologie materiaal vervaardig word as waarvan amptelike internasionale rugbytruie gemaak word – ‘n rekenaarontwikkelde kombinasie van 93% poliëster en 7% elastane, wat as “anti-grab; easy escape” materiaal bekend staan.

“Dit is ‘n uiters liggewig-materiaal wat soos ‘n tweede vel pas en uitstekende beskerming aan spelers sal verleen terwyl dit steeds sweetdeurlaatbaar is. Spelers sal baie vinnig daaraan gewoond raak. Dit sal ook hul balhantering bevorder eerder as benadeel,” lui Wêreldrugby se verklaring.
Die besluite wat nou geneem is, is reeds gistermiddag deur Wêreldrugby aan die 120 rugby-unies in sy lede-lande deurgegee.

* Die oud-Springbokkaptein, Dawie de Villiers, wat in Julie vanjaar 80 word, het gisteraand in ‘n foononderhoud aan Vaalweekblad gesê rugbyreëls het in die afgelope dekades sedert hy in die 1970’s die Springbokke gelei het, baie verander. “Vele reëls in internasionale rugby moes al deur die jare verander. Ek is nie verbaas daaroor dat Corona sy stempel op die spelreëls gaan afdruk nie. Dit wys dat rugby ‘n lewendige en aanpasbare sportsoort is,” sê De Villiers, ‘n voormalige NG-predikant en oud-NP-politikus, wat tans in die Kaap woon.

Hoewel hy daarvan bewus is dat mans in die afgelope jare toegelaat is om meer emosie op die veld te wys as in sy dae, verwelkom hy die besluit dat die oordrewe fisiese vreugdebetoning nadat punte aangeteken is, nou verbied word.

“Dit pas nie vir my by ‘n ‘gentleman-sport’ om so onbeheersd te spog nie. In ons dae is ons presies geleer hoe ons ons punte of oorwinnings moes vier: Met net ‘n ingetoë, goedkeurende kopknik en dalk ‘n vinnige klop op jou spanmaat se skouer. Om jou spanmaats te omhels of te soen sou totaal onaanvaarbaar wees. Inteendeel, ons reëls was destyds so streng dat ons omtrent skriftelik by ons Rugby-unie aansoek moes doen as ons net ons eie vrouens by die huis wou soen!”

 

 

 

 

 

 

 

Uploaded by Retha Fitchat on 1 April 2020.

Exit mobile version