CommunityLifestyleLocal newsNewsNewsBreaking News

1 Februarie het my lewe total en al onder my uitgeslaan – Driehoek slagoffer vertel

1 Februarie het my lewe total en al onder my uitgeslaan - Driehoek slagoffer vertel

Uit die mond van ‘n Driehoek slagoffer

Die skermgreep wat Chantelle van den Bergh die oggend voor die Driehoek ramp van haar selfoon geneem het.

Chantelle van den Bergh
Dit het soos enige ander dag begin en soos enige ander dag dink mens en aanvaar mens dat jy weer net huis toe gaan soos elke dag. Min het ek geweet 1 Februarie om 07:30 het ek my laaste screenshot geneem, en soos mens maar maak, spot jy met 911 en het ons daaroor gegrap. Ek en my vriendinne, Vanessa, Clari en Nandi het gelag en gesê: “Hier kom ‘n disaster.”
Saalopening het begin en aangegaan soos die normale gebruik elke Vrydag. Met haas was ons uit, omdat ons almal gou nog iets wou kry. Vinnig het ons oor die brug geloop en by die trappe af. Ek het voor geloop en het omgedraai om vir Vanessa en Clari te sê ek moet gou op ‘n ander plek wees, maar nooit het ek die geleentheid gehad om dit vir hulle te sê nie.
Skielik was alles swart en ek was plat op die grond met ‘n gewig wat ek nie kon beskryf nie. My eerste gedagtes was “bom”. Alles is seer, my voet is dood, ek kry nie asem nie en dit is pikswart om my. Ek kan nie beweeg nie en almal skreeu. Skielik kom daar bietjie lig in. Ek het geen woorde vir die prentjie wat ek skielik hier voor my sien nie. Daar is kinders se hande en voete soos hulle die blad probeer oplig.
Die Maandag het al die ouers hulle kinders se tasse by die skool gaan afhaal en die tannie in die kantoor het vir mamma en pappa al my persoonlike goed gegee wat hulle toegesluit het, asook ‘n pakkie wat iemand daar by die skool vir my afgegee het. In die pakkie was daar ‘n boodskap op ‘n kaartjie van die “Tou van Hoop”.
Die Here beskerm my maar daar was nog iets baie besonders in. ’n Wit klippie met Ps: 91.1 opgeskryf. Ek het vir myself gesê dit is nou toevallig, nog ‘n “911”. Die maande het verbygegaan en ons het sterker geword. Een oggend by die skool het ons die snaakste boodskap van Vanessa se se ma af gekry. Die oggend van die ramp, 1 Februarie, het haar horlosie op die grond by die skool van haar arm afgeval toe sy by die skool gestop het. Sy het dit net in haar handsak gegooi. Sy het skielik onthou van haar horlosie en dit in haar handsak begin soek. Die oomblik toe sy haar horlosie uithaal, het sy gesien die horlosie het gebreek en gaan staan op 11 minute oor nege daardie oggend van 1 Februarie 2019. Ek het net daar besef: “911” is nie ‘n disaster getal nie, maar wel een van hoop. 1 Februarie 2019 was die Here gereed en Hy was daar. Drie keer het die Here vir my gewys dat Hy ons nooit alleen laat en ons nooit verlaat nie.

 

Die wit klippie met Ps: 91.1 op geskryf.
Chantelle van den Bergh se vriendin, Vanessa, se ma se horlosie het 09:11 gaan staan toe sy dit laat val het by die skool die dag van die ramp.

Back to top button