Local newsNewsNewsBreaking News

Bejaarde getraumatiseerd na tweede plaasaanval

Bejaarde getraumatiseerd na tweede plaasaanval

VANDERBIJLPARK. – ‘n Bejaarde man is erg getraumatiseerd na ‘n plaasaanval Vrydagoggend in die Lindequesdrift-omgewing.
Hy was gelukkig om geen beserings op te doen nie en sy aanvallers is dieselfde dag nog in hegtenis geneem.
Piet van Waveren (79) en sy vrou Marie (75), wat Vrydagoggend soos elke dag hul dagtake begin het, het nooit gedink dat die dag so sou uitdraai nie.
Piet het met sy voertuig op die plaas gery, terwyl Marie gereed gemaak het om lone by hul familiebesigheid in die dorp te gaan betaal.
Nadat Marie die huis gesluit het en die alarm geaktiveer het, het vier mans met ’n wit Golf daar opgedaag en gevra of hulle nie dalk beeste het wat hulle wil verkoop nie. Marie het gesê dat daar ongelukkig nie is nie, maar hulle kan vir Piet wag en met hom daaroor gesels.
Terwyl sy nog met die mans gesels het, het Piet opgedaag. Marie het haarself verskoon en gery. Piet het ook beaam dat hy nie beeste het om te verkoop nie.
Hulle het vir Piet gevra om hulle met hul motor te help en gesê dat die battery dalk pap is.
Hulle het die Golf nader gestoot en toe Piet die enjinkap van sy voertuig oopmaak, het hulle hom van agter oorrompel en sy vuurwapen afgeneem.
Hulle het hom in die huis gedwing waar die alarm afgegaan het. Piet is beveel om op die vloer te lê, maar hy het geweier. Hy is toe in die kamer vasgebind. Hulle het nog ‘n vuurwapen, Piet se haelgeweer en kontant gevat en gevlug.
Boere van die omgewing het opgedaag en die plaasvoorman is aangetref waar hy vasgemaak was. Danksy die gesteelde selfoon van die plaasvoorman het die polisie die Golf en een van die verdagtes naby Sebokeng aangekeer.
Nog ‘n verdagte is later in hegtenis geneem en die gesteelde wapens is teruggevind. Teen druktyd was al vier verdagtes vasgetrek.
* Piet se lewe is 24 jaar gelede deur sy sakrekenaar gered, toe hy in ’n skietery tussen rowers op sy vorige plaas in die arm en pinkie gewond is. By die hospitaal het hulle gesien dat sy sakrekenaar ‘n koeël gekeer het wat noodlottig kon wees.

Back to top button