Vaalweekblad onthou… Ma doen Grensdiens saam met seun

Lees nog sulke nuusbrokkies uit toeka se dae in dié week se Vaalweekblad (Uitgawe van 26 Junie 2019)

Vaalweekblad word vanjaar 55 jaar oud en ons kyk terug na interessante nuus uit die verlede. Hier is ‘n ‘Toeka-berig’ uit ‘n Vaalweekblad van 1978:

 

Ma doen ‘Grensdiens’ saam met seun
Terroriste wat Suid-Afrika oor die land se grense probeer binnedring het, het die lewe warm gemaak vir die destydse Apartheidsregering. Die 1970’s en 1980’s is gekenmerk deur skermutseling op die Grens en in ‘n stadium het byna elke huisgesin in die Vaaldriehoek ‘n pa, seun, man of vriend gehad wat Grensdiens moes gaan verrig.

Vir die gesinne, maar veral die ma’s, vroue, susters en meisies van dié manne, was dit ‘n onaangename tyd van kommer en baie gebede.

Een so ‘n ma van die Vaaldriehoek, mev. Francis Hall, het in 1978 besluit dat sy haar nie deur ‘n hele weermag of vuurpeloton sou laat stuit nie. Sy het hardnekkig besluit om haar seun te gaan bystaan waar hy sy diensplig op die Grens moes gaan doen.

“Mense moet nou maar vir my lag. Ek gaan my kind soek. Ek wil hom nie terugbring van die Grens af of met sy militêre pligte inmeng nie, maar wil net naby hom wees,” het mev. Hall van Steyn van der Spuystraat, Sasolburg, destyds aan Vaalweekblad vertel.

Sy het haar seun as baba byna verloor weens siektes en hom herhaalde kere “teruggebid”. Sy het beplan om in die naaste dorpie naby die plek waar hy by die Grens gestasioneer was, in ‘n hotel tuis te gaan, selfs al sou sy ‘n jaar daar moes bly. So sou sy hom darem kon sien as hy naweekpas kry. Sy het aan Vaalweekblad gesê sy glo dat die ongeluksvoël altyd oor hom vlieg en daarom wou sy naby hom wees as daar dalk iets met hom gebeur. Sy het egter bygevoeg dat sy besef “mens kan niks doen aan die Voorsienigheid nie”.

Of die seun net so geesdriftig oor sy ma se langtermyn besoek was, weet ons nie, maar hopelik het albei ongedeerd teruggekom en kon Boeta die ongeluksvoël ontglip.

Exit mobile version