Ope brief van ‘n ouer van ‘n Hoërskool Driehoek-leerling

"Ek wil vandag graag ‘n mening lug. Dit kom uit my hart en dit is nie my bedoeling om ‘n debat te ontketen nie. Ek doen dit uitsluitlik as ‘n besorgde ouer van ‘n kind van Hoërskool Driehoek"

‘n Besorgde ouer van een van Hoërskool Driehoek se leerlinge skryf:
Ek wil vandag graag ‘n mening lug. Dit kom uit my hart en dit is nie my bedoeling om ‘n debat te ontketen nie. Ek doen dit uitsluitlik as ‘n ouer van ‘n kind van Hoërskool Driehoek.

Op die 1 Februarie 2019 is ons almal geruk deur die gebeure by HS Driehoek. My kind is nie op die dag liggaamlik beseer nie, maar wel emosioneel. Hoewel daar dood, beserings en baie hartseer was, het daar ook een van die mooiste dinge wat ek ooit beleef het, plaasgevind met die val van die brug. Verhoudings is herstel. Verhoudings tussen ouers en kinders, families en gemeenskappe. Die hele land het hande gevat. Elke ouer wat ‘n kind aan die dood afgestaan het, die ouers van kinders wat ernstig beseer us en ook meer as 1 150 ander kinders van die skool se lewens is op die dag onherroeplik verander. Mooi dinge het uit die tragedie na vore gekom en my kind is trots om met die skool geassosieer en deel daarvan te wees.

Mooi beriggewing het plaasgevind en goeie dekking is verleen deur die radio, TV en koerante. Ongelukkig het alles wat veronderstel was om mooi te wees en te genees, in absolute chaos verander. Dag en nag is daar ‘n oorlog op sosiale media, op elke radio- en nuusprogram wil sekere individue die aandag steel. Hierdie self aangestelde individue en organisasies het opgestaan en ‘n oorlog begin tussen ouers, die sakekamer en die skool. Met mandaat van minder as 30 ouers (wat nie eens ‘n fraksie is van die meer as 1 200 leerders van die skool nie, en ook nie my mandaat het nie) poog hulle om onder die vaandel van genesing, bystand en hulp hulle eie beul te blaas.

Al wat hierdie organisasies en individue dag na dag regkry is om hierdie tragedie aan die brand te hou, gemoedere op te sweep en totale verwarring te veroorsaak. Ons mag nooit vergeet van die hordes ander organisasies en individue wat hulp en bystand gelewer het op verskeie gebiede nie, sonder om hulle name aan die groot klok te hang vir almal om te bewonder nie. Sê die Woord dan nie juis die linkerhand moet nie weet wat die regterhand doen nie?

Die sakekamer wat uitsluitlik die mandaat het om die bystandfonds te administreer, word aangevat op openbare vergaderings. Ek is dankbaar vir Vaalweekblad se berig op 2019/03/12 wat dit net weer onder almal se aandag gebring het wie in beheer is van die fonds. Hoewel almal die sakekamer aanvat, bestaan daar geen rekord dat enige eise geweier was nie. Iets wat egter ontstellend was, is dat sekere individue op die nuuskonferensie openlik verklaar dat hulle gepoog het om met individuele lede van die sakekamer privaat vergaderings te hou, hulle by hul wonings besoek, hulle op hul eerstename en eggenote op hulle byname noem en individue gebied het om na hulle te kom. Teen hierdie tyd is daar geen verskoning dat die sakekamer in besit moet wees van ‘n lys met elke ouer se besonderhede wat finansies nodig het nie. Daar moet bygesê word dat hierdie finansies nie ‘n onuitputtende bron is nie, en het individuele ouers die reg om eise teen welke departement in te sit.

Ek en elke ander medeChristen dra daagliks ouers wat kinders aan die dood afgestaan het, die beseerde kinders en hul ouers aan die Here op en bid vir vertroosting en genesing.
Van hierdie beseerde kinders hoor ons egter veel te min en kan daar op hulle meer fokus geplaas word. Dankie ook vir Vaalweekblad in die verband.

Vandag, 46 dae na die voorval, moet ek vir u sê dat ek namens baie leerlinge, ouers en onderwysers kan sê die struwelinge moet nou stop. Dit is reg dat ouers van beseerde kinders volgehoue ondersteuning en befondsing moet kry van watter aard ookal waarop hulle geregtig is. Ek het ook onkostes gehad met my kind, wat direk voortgevloei het uit die dag, maar sovêr (en ek mag verkeerd wees) is daar nog geen amptelike klaring dat nalatigheid bewys is nie, en kan daar vir nou gesê word dat dit ‘n ongeluk was. Ek gaan beslis nie nou ‘n kansvatter wees en ‘n eis insit vir “plasters” en brandstof nie, want ek glo dat hierdie geld wat geïn is, direk na die ouers moet gaan wat dit broodnodig het.

Meer as 1 000 kinders en hulle ouers poog elke dag om aan te gaan met hul lewens en ouers probeer hul kinders weer op ‘n goeie plek in hulle lewe kry. Sedert die voorval het van hierdie leerlinge ook ander trauma beleef, soos egskeidings, afsterwe van ‘n ouer of geliefde en is hulle voortdurend onder druk met hulle akademiese agterstand. Hulle poog om aan te beweeg deur sielkundige hulp, sport, kampe en toere. Ons sien mooi prentjies van kleurryke tente en hoe die kinders in reënwater baljaar. As jy nie ‘n ouer is van een van hierdie leerlinge nie en ‘n buitestander is, dan sal jy nooit besef dat dit alles behalwe pret is vir hulle. Hulle sit in onuithoubare hitte in die tente, hulle reën papnat en poog steeds om agterstallige werk in te haal en eksamens te skryf. Daar word so maklik na sekondêre trauma verwys, maar individue, organisasies en elkeen wat deel is van hierdie oorlog wat nie ‘n kind in Driehoek het nie, wat negatiewe video’s en plasings maak, opmerkings lewer en tot vervelens alles herplaas, besef julle nie dat julle direk daarvoor verantwoordelik is om ons kinders onder daai brug van 1 Februarie 2019 gevange te hou nie? Dit sluit nie eens in dat julle besig is om die bande wat gesmee is en hande wat gevat is, los te breek nie.

Dit het tyd geword dat ons kinders beskerm word teen hierdie onnodige blootstelling. Ons kinders word permanent aangehaal as gebroke, maar niemand gun hulle die kans om te genees nie. My kind het nie speelgoed en lekkergoed nodig van welke organisasie of individu wat blootstelling soek, om te genees nie, my kind het nodig om uitgelos te word. Ons kinders is moeg, siek en sat vir almal wat hulle hartjies wil genees.

Ek vra weer, as jy ‘n ouer van ‘n Driehoekkind is en nie die mandaat van jou eie kind het om ‘n oorlog te voer wat lankal nie meer bedoel is om hulle te genees nie, moet jy herbesin. Dit gaan lankal nie meer oor die kinders nie, dit gaan oor ego’s en om punte te bewys.

Besorgde ouer.

Exit mobile version