AmusingLocal newsNews

‘Só bewys diewe hulle kan selfs doringdraad deurtrek!’

“Ek het gewag vir die dag dat gewetenlose diewe gaan wys dat hulle selfs doringdraad deur hulle alies kan trek. En hier het ons nou die bewys.” Só sê ‘n ontstoke Vaalweekbladleser na aanleiding van die draadheining wat feitlik ten volle gesteel of verwyder is, slegs ‘n paar weke nadat dit langs die R42 en die R59-snelweg opgerig is.

 

Retha Fitchat
VEREENIGING. – Die heining wat onlangs vir etlike kilometer langs die R42 en die R59-roete vanaf President Hyper Vaal opgerig is, het oornag skielik “verdwyn”.

Die heining is vermoedelik aangebring deur die Sedibengse distriksraad, wat oorkoepelend oor die munisipaliteite van Emfuleni, Midvaal en Lesedi (Heidelberg) staan, maar ondanks verskeie navrae kon Vaalweekblad nog nie bevestiging hiervoor, óf oor die koste van die projek kry nie.

‘n Misnoegde leser, mnr. Jan Vredenburg, skryf: “Aangesien daar baie groter probleme in Emfuleni bestaan waarvoor baie geld benodig word, soos rioolwerke en padoppervlaktes, kan ek nie die noodsaaklikheid van die duur heining verstaan nie. Bo en behalwe dat die drade darem die beeste van die pad kon keer om ongelukke te verminder, kon papiere en plastieksakke ook daarteen vas waai, wat seker die skoonmaak van die area sou vereenvoudig.
“Behoorlike beplanning het toe seker nie plaasgevind nie, want binne ‘n week word daar toe weer openinge gesny, seker om die ‘natuurlike’ migrasie van die beeste te verseker. Twee weke later het al die ‘droppers’ verdwyn. Nog ‘n week later sien ons een middag ‘n paar mense met glimbaadjies wat die heining oprol, sodat daar vandag nog net pragtige ankerpale oor is. Al die papiere en gemors kan darem ook weer vrylik die area besoedel!
“Was dit ‘n oefening in werkskepping, of het die kontrakteur dalk net nie sy geld gekry nie? En is ‘n behoorlike tenderproses wel gevolg?” wil Jan weet.
Mnr. Marius Kriel is nog een van talle lesers wat meen dat dit ‘n “ondeurdagte, geldvermorsende en onpraktiese” projek was. Toe hy die heining die eerste keer in September sien, het hy gewonder of dit opgerig is om die trop beeste wat gewoonlik daar wei, van die snelweg af te hou. “Dit sou ‘n edel gedagte wees maar het sekerlik ‘n klomp geld gekos,” sê hy.

Hy meen die geld kon eerder gebruik word vir nagtelike vloedligte op die R42 tussen Vanderbijlpark en Vereeniging, ter wille van duisende motoriste se veiligheid.

* Vaalweekblad sal voortgaan om antwoorde te soek en terugvoer te gee oor wie die besluit geneem het om die heining op te rig; of ‘n behoorlike tenderproses gevolg is; of die kontrakteur betaal is, wat die hoofrede vir die oprigting was; en watter instansie daarvoor betaal het. Dat belastingbetalers indirek hiervoor betaal het, is egter nie te betwyfel nie.

Back to top button