AmusingLifestyleLocal newsNews

Ouma Sannie vier 90ste jaar saam met Vaaldriehoekse nageslag

Sy glo dat “’n mens se kop gesond bly as jy besig bly”, daarom skilder en brei sy nog graag. “Oumense wat sit en niks doen nie, gaan gou dood.”

 

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Mev. Sannie Bezuidenhout, wat op 28 Julie haar 90ste verjaardag gevier het, was nog nooit ‘n inwoner van die Vaaldriehoek nie, maar sy en haar oorlede man, Ben, het beslis ‘n bydrae tot die Vaaldriehoek se inwonertal gemaak!

Hoewel die Bezuidenhout-egpaar eers in die Durban-omgewing gewoon en later na Frankfort verhuis het, woon al hul kinders en kleinkinders vandag in Vanderbijlpark of Sasolburg.

Ouma Sannie, soos sy onder haar nageslag bekendstaan, is in 1928 in Frankfort gebore, waar sy as plaasmeisie grootgeword het totdat sy getroud is.

Haar man, Ben, het destyds in Durban op die hawe gewerk voordat hulle Frankfort toe getrek het om te gaan boer. Hy is in 2002 oorlede.

Volgens Ouma Sannie se kleinseun, Ben Marais, is sy ondanks haar hoë ouderdom nog baie gesond en selfversorgend.

Sy het deur die jare in Frankfort bekend geword vir haar vlytige hande en het graag vir mense gebak, gebrei en klere gemaak.

Sy pluk vandag die vrugte daarvan dat sy deur die jare goed na haar gesondheid omgesien het en gereeld gestap en oefening gedoen het. Sy glo dat “’n mens se kop gesond bly as jy besig bly”, daarom skilder en brei sy nog graag. “Oumense wat sit en niks doen nie, gaan gou dood.”

Ses kinders (van wie drie al oorlede is), 13 kleinkinders (van wie een oorlede is), 14 agterkleinkinders en vier agteragterkleinkinders is uit Ouma Sannie en Oupa Ben se huwelik gebore. Haar groot nageslag het onlangs saamgekuier om haar 90ste verjaardag te vier.

Back to top button