Verlore poedeltjie na weke terug by Oupa

Heidi is terug waar sy hoort ... veilig in oupa Roelf se liefdevolle arms.

‘n Hartseer Roelf Potgieter van Denzastraat in SW5, Vanderbijlpark, het in April by Vaalweekblad om hulp kom aanklop toe sy geliefde maltesie Heidi, op 8 April per ongeluk by die erf uitgekom het. Iemand het gesien hoe ‘n vrou Heidi oplaai en wegry en Roelf se soektog om Heidi terug te kry, het begin. Hy het vermoed dat die vrou dalk gedink het Heidi het nie ‘n huis nie, en het selfs ‘n beloning van R1 000 aangebied om haar terug te kry. Die weke het verbygegaan en steeds was daar geen teken van Heidi nie. Vaalweekblad het Roelf in sy soektog ondersteun en verlede week besluit om nog een laaste keer die foto te plaas met die hoop dat iemand daarop sou reageer. Eureka dit het gewerk! Daardie aand baie laat het Roelf die langverwagte oproep gekry: “Ons het jou hondjie”. Sy was net drie strate ver van haar eienaars en die hereniging was soet. Die mense wou nie die beloning aanvaar nie, en was net tevrede om Heidi aan haar ware eienaar terug te besorg. Wat ‘n gelukkige einde – 45 dae later. Foto: Elsje Vermeulen

 

Exit mobile version