Pers vir pret, rooi vir so éffentjies roekeloos!

Wie het gesê ‘n vrou mag nie gelyktydig rooi en pers dra nie? As jy ‘n lid van die Red Hat Society is, volg jy nie die mode nie. Jy bepaal sélf die mode

 
MEYERTON. – Die raakvatter-stigter agter die Red Hat Society was Jenny Joseph wat jare gelede die gedig, Warning, geskryf het. Daarin sê sy: “When I am an old women I shall wear purple – with a red hat that doesn’t go and doesn’t suit me…”.

Jenny het in 1998 ‘n rooi hoed vir ‘n vriendin vir haar 50ste verjaardag gegee, en haar na ‘n teetuin uitgeneem om dit te vier. Meer vriendinne het by hulle aangesluit, uitgedos in pers (met baie bling!) en alles natuurlik afgerond met ‘n rooi hoed. En so het die Red Hat Society ontstaan.

Die organisasie bestaan al 20 jaar en het ‘n ledetal van bykans ses miljoen vroue van regoor die wêreld. Om lid te word, moet jy minstens 50 jaar oud wees en bereid wees om pers aan te trek met ‘n rooi hoed. Dit is nie ‘n fondsinsamelingsorganisasie nie. Die hoofdoel is om pret en plesier te hê.

Tans is daar agt chapters in Suid-Afrika met ‘n ledetal van bykans 300.

Die Midvaal Dazzling Dames is een hiervan en is in 2011 met net ses lede gestig. Intussen het dit gegroei tot bykans 20 lede in die Vaaldriehoek.

“Ons missie is om pret te hê en mekaar se lief en leed te deel,” sê Elizabeth Venter, een van die lede. Die vroue kom een keer per maand bymekaar vir ‘n heerlike ontbyt of “High Tea”. Hulle bevorder mekaar se talente en leer bymekaar, of nooi kenners om hulle oor interessante onderwerpe toe te spreek.

Hulle woon kunsklasse by, speel tienpenrolbal en soms word hulle selfs uitgenooi na die perdewedrenne op Turffontein saam met ander dorpe se chapters. Hulle geniet die lewe ten volle na vyftig en smee nuwe vriendskapsbande wat diep spore in mekaar se lewens laat.

Die organisasie nooi alle vroue ouer as 50 om by hulle aan te sluit. Skakel gerus vir Louise Joubert by 082 785 8538 vir meer inligting.

 

Exit mobile version