Sestien trollies vol kos vir Kindersorg!

Personeel van verskeie Vaaldriehoekse sake-instansies en nywerhede het onlangs 'n rukkie weggebreek van hul daaglikse werk en aan 'n prettige insamelingsgeleentheid vir Kindersorg deelgeneem

VANDERBIJLPARK. – OK Grocer in Evereststraat, Vanderbijlpark, was op 21 September ‘n malle miernes van bedrywigheid terwyl 16 spanne, bestaande uit werknemers van verskillende plaaslike sakeondernemings, teen tyd gewerk het om hul trollies vol kruideniersware en ander benodigdhede vir Kindersorg SA (Vanderbijlpark) te vul.

Elke span moes ‘n deelnamefooi van sowat R750 betaal om aan die “trolly-run” deel te neem en almal het lyste met items wat deur Kindersorg benodig word, ontvang. Die gejaagde soektog kon begin terwyl daar met stophorlosies tydgehou is.

Die spanne het bewys dat hulle flink, vinnig en fiks is en selfs die manne was duidelik tuis tussen die winkelrakke. Pryse is onder andere gegee aan die besgeklede span, die vinnigste span en die mees akkurate span.

Al die inskrywingsgeld en kruideniersware is agterna aan Kindersorg SA (Vanderbijlpark) geskenk en tien minderbevoorregte gesinne kon op verskeie maniere daarby baat.

Die volgende ondernemings of instansies het spanne ingeskryf: Jordaan Botha en Vennote, Mills Ingelyf, GP Control Valves & Engineering, Turn & Tender, Business Banking Vaal, Enterprise Banking Vaal, Highpoint Manufacturing, Binvic en Kindersorg Vanderbijlpark. Die “trolly-run” is deur pesoneel van Absa gereël.

Die organiseerders en Kindersorg bedank M&S Corrosian, Process Vacuum en Active Auto (Fred Brehem) vir hul ondersteuning en donasies sowel as OK Grocer in Evereststraat wat uit hul pad gegaan het om dit ‘n prettige en suksesvolle geleentheid te maak.

* Skakel Kindersorg (Vanderbijlpark) gerus by (016) 933 2022 om betrokke te raak of meer oor die instansie uit te vind.

 

OK Grocer se personeel het ook humoristies aangetrek vir die dag en in die vrolike gees gedeel. Fotograaf: Stanley Coetsee

Die manne het bewys dat hulle heel gemaklik daarmee is om teen ‘n gejaagde spoed ‘inkopies’ te doen.      –   (Sakeondernemings wat deelgeneem het en ‘n CD met al die +/- 70 foto’s wil bestel, kan ‘TROLLY RUN’ SMS of whatsapp na 076 424 5861).

 

 

 

 

 

 

Exit mobile version