CommunityLifestyleLocal newsNews

Jan Meyer – die ‘vader’ van Meyerton

Jan Meyer, na wie Meyerton vernoem is, was voorwaar ‘n visioenêre sakeman

Jan Meyer, na wie Meyerton vernoem is, was voorwaar ‘n visioenêre sakeman wat uit ‘n nederige agtergrond gekom en homself uiteindelik tot miljoenêr opgewerk het. Vir Jan het alles egter nie net oor geld gegaan nie. Hy het ook ‘n sagte hart gehad vir mense in nood, en het graag na behoeftiges omgesien.

Johannes Petrus (Jan) Meyer is op 26 Junie 1842 in die Kaapkolonie gebore. Nadat sy pa, Johan Georg Meyer in Oktober 1855 op Colesberg oorlede is, was dit die taak van die dertienjarige Jan om sy ma en die vee wat hulle vanaf die Kaap saamgebring het, veilig op Elandsfontein te besorg. Jan was toe hoof van die huis en moes die boerdery behartig.

Die jong seun het sy eerste leeu geskiet waar Doornfontein, ‘n voorstad van Johannesburg, later ontwikkel is. Sy enigste formele onderrig het hy van sy ma ontvang, wat later weer getroud is met ‘n mnr. AC Viljoen.

Jan Meyer was nog nat agter die ore toe hy twaalf morg grond teen dertien pond by sy stiefpa gekoop en daar begin groente kweek het. Dit was waar Alberton se burgersentrum later gebou is.

In 1860 het hy ook die plaas Klipriviersberg, digby waar Meyerton vandag is, gekoop nadat die eienaar van die grond, ene Jaap Smit, oorlede is.

Jan was ‘n transportryer en het ‘n plaaswinkel op Klipriviersberg begin – die eerste winkel met ‘n sinkdak in die destydse Transvaal. Die 18-jarige Jan is dieselfde jaar met Christina Salmina Meyer van Mosselbaai getroud, wat na die geboorte van hul vierde kind oorlede is. Op 1 April 1871 trou hy ‘n tweede keer – dié keer met ‘n meisie wat oral as ‘n ware dame bestempel is: Stefina Petronella Strydom. Hulle het een seun en vier dogters gehad.

Jan was in 1881 veldkornet vir die Kliprivierwyk wat deel van die Heidelbergdistrik gevorm het. Hy het in meeste van die Transvaalse oorloë geveg en gehelp om oproerigheid te onderdruk.

Teen die middel van 1886 het hy opdrag van die landdros van Heidelberg gekry om weidingsregte op die plaas Langlaagte, waar goud ontdek is, asook sekere goudvelde waar onwettige gouddelwery plaasgevind het, te gaan ondersoek.

Danksy sy goeie sin vir besigheid en die verkoop van sekere goudaandele, het hy oornag ‘n miljoenêr geword. Hy het 56 000 morg grond in die distrikte Heidelberg, Standerton, Warmbad en Pretoria gekoop en laat in 1891 ‘n spog-herehuis laat bou op Klipriviersberg in die Midvaalgebied, waar sy agterkleinseun, Johan George, nog tot in 1991 gewoon het.

Die formidabele Jan Meyer het ‘n deel van een van sy plase na die Tweede Vryheidsoorlog beskikbaar gestel as heenkome vir behoeftige Afrikaners.

Hy het op 2 Desember 1919 in die ouderdom van 77 jaar op Kliprivierberg gesterf nadat hy homself ‘n paar dae tevore, terwyl hy in die veld voëltjies geskiet het, per ongeluk deur die kop geskiet het toe sy voet vasgehaak en hy gestruikel het.

Op 4 Desember 1919 is hy op sy geliefde grond begrawe.

Berig geborg deur:

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button