BlogsCommunityCommunityLifestyleNewsNews galleriesOpinionsPhoto Galleries

Refengkgotso/Deneysville se onwelriekende probleem

Nuwe pomp bring lig in die riooltonnel

 

Deur Peet Schabort
Riool? Wat ‘n gedagte om aan te dink en dan nog om ook daaroor te wil skryf! Nee-wat, dis reeds genoeg wanneer mens daar van Sasolburg se kant Deneysville nader en jy aan die ander in die motor sê: “Maak toe die vensters want . . . ” Ja, dis ‘n reuk wat jou oë oormekaar laat kyk maar ook ‘n reuk wat alreeds sinoniem is met ons oral in Suid-Afrika. Daar is bitter min wat dit nie reeds ken. Wanneer mense by jou opdaag word daar verwys na die ‘aroma’ wat langs die pad (R549) by Refengkgotso in die lug hang. Selfs die ander pompstasie naby die Oranjeville-pad is dit dieselfde. Dis hier waar ek en André Johnson besluit het dat iets moet hieraan gedoen word want mense se gesondheid en toerisme word hierdeur uiters negatief beïnvloed. Dis toe ook mooi hierdie tyd dat daar ‘n droogtetoestand heers in die land en die reënwater wat gedurig as verskoning gebruik word vir die oormatige vloei van riool is nie meer ‘n rede. Hierdie ‘oefening’ van ons begin 2015 waar ons ook agterkom dat in Mei 2015 word daar oorhaastig en sonder die nodige permitte van die Dept. Waterwese en Sanitasie ‘n riool pyplyn gelê Vaaldam toe en sommer hier deur die middel van die Deneysville! Geen kennisgewingborde van wie die werk doen is te sien. Daar is sekere vereistes waaraan die pyplyn en suiwerheid van die rioolwater moet voldoen voor dit in die Vaaldam land en hierdie aksie is tans gestop.
Gedurende hierdie tyd word daar ook druk uitgeoefen deur invloedryke mense in Deneysville op die Metsimaholo munisipaliteit maar vordering is nie wat wonders. Intussen groei ‘n informele dorp langs Refengkgotso met rasse skrede terwyl absoluut niks gebeur met die uitbreiding en vergroting van die bestaande rioolsuiweringswerke. Op daardie stadium in 2015 moes die rioolwerke verdubbel word om net gelyk te trek met die inwoners van Deneysville en Refengkgotso wat alreeds hier woonagtig was.
Die rou riool bereik op 10 Aug. 2015 die Vaaldam en skielik ontwaak die munisipaliteit. Nou het die ‘fan’ en die riool by mekaar uitgekom en die halfgesuiwerde riool (onthou die rioolwerke is te klein) word gelei na ‘n groot gruisgat wat uiteindelik ook vol raak. Van hier loop die rioolwater redelik breed (en is blootgestel aan genoeg sonlig) in die rigting van die Taaibosspruit se bolope. Na sowat ‘n verdere 25 km eindig die spruit in die Vaalrivier. Dit is hoogs onwaarskynlik dat die gruisgat se water verdere skade kan aanrig alhoewel daar ‘n bekommernis is oor die besoedeling van die ondergrondse water. Daar is egter geen ander uitweg tot tyd en wyl die rioolwerke genoegsaam vergroot is om die huidige PLUS toekomstige inwoners te bedien. Vrae wat gevra word en wat onbeantwoord bly is waarom daar nie behoorlike vooruitbeplanning gedoen was om hierdie fiasko te voorkom?
Dis ook gedurende hierdie tyd dat die riooldilemma onder die aandag van die media kom en hulle besoek aflê om met verbasing te sien die toedrag van sake wat nie oordryf word. Reeds toe (2015) word daar foto’s geneem waar huise in Refengkgotso in rioolwater staan (en selfs ‘n kerkhof!) wat ook toegeskryf kan word aan pompstasies buite werking. Dis ook gedurende hierdie tyd dat ek en André by die rioolwerke deur ‘n hoogaangeskrewe van die munisipaliteit uitgeskel word met die woorde “You are a disgrace!” en dit in teenwoordigheid van die media. Ja, doktor A . . . jy het ons net meer vasberade gemaak. Daar is twee pompstasies waarvan die een by die ou begraafplaas ook twee awegaars (spirale) het. Die een awegaar is buite werking vir verskeie jare. Hier vind ook nog steeds gereeld rioolstortings plaas. Die ander pompstasie is langs die R549. Beide pompstasies spog met die kenmerkende rioolreuk.
Daar kom toe ‘n tydperk van rus en vrede tot April 2017 waar ons agterkom dat die pomp langs die R549 alreeds vir drie maande staan en die toestand in Refengkgotso langs die onderste rioollyn is haglik. Huise staan in rou rioolwater waarvan die water reeds deur die mure opgesuig word. ‘n Vrou in haar 80’s wat met ‘n kruk loop se buitetoilet is onder water en sy kan dit skaars gebruik in die dag en gladnie snags. ‘n Vrou met ‘n baba kan nie met haar kind op die stukkie grasperk voor die huis sit want dit is deurdrenk van die rioolwater. Kinders moet gedurigdeur dopgehou word want hulle wil in die ‘water’ gaan speel. Om van die woongebied die R549 te bereik sonder om in riool te trap is net vir die vlugvoetige en mense wat voldoen aan olimpiese standaarde in verspring en driesprong. Hierdie is maar enkele voorbeelde. Deur die dag en snags hang daar ‘n rioolreuk oor Refengkgotso a.g.v. die R549-pomp wat buite werking was. Die naaste huis grens aan die heining van die pompstasie en die pomp en huis self is 30m verwyder van mekaar.
Daar was gedurende Junie 2017 vier deksels oop op die rioollyn wat rou riool losgelaat het oor ‘n breedte van 400m en ‘n lengte van 1200m voordat dit die Taaibosspruit bereik. Daar word weer vrae gevra en die media kom Gedurende Junie vir ons kuier. Nou is dit weer TV en koerante en die verskoning vir die stukkende pomp is dat daar nie geld is asook dat daar vir goedkeuring gewag word om die pomp (R549) te vervang. Na my beste wete behoort daar twee pompe op die perseel te wees waarvan een ‘n bystandpomp is. Daar moet egter ook ‘n derde pomp wees (by die werkswinkel) sou die ander twee ingee, m.a.w. daar behoort slegs ‘n verskoning te wees indien die elektriese toevoer onderbreek word.
Na sowat 6 maande se riool wat openlik tussen huise en in die veld vloei verskyn daar in Julie ‘n splinternuwe en groter pomp by die R549-stasie. Ek en André besoek die inwoners blootgestel aan die rioolvernedering en hulle is sigbaar verheug.
Nou kan die vraag dalk gevra word waarom ons betrokke raak by ‘n aangeleentheid wat letterlik aan die anderkant van die bult is tussen Deneysville en Refengkgotso. Die antwoord is heel eenvoudig omdat die rioolwater reeds al voorheen in die Vaaldam beland het wat drinkwater verskaf aan duisende mense. Siektes wat versprei kan word a.g.v. kontak daarmee. Selfs sou die riooldamme wat nou in die veld staan opdroog dan is ons almal blootgestel aan die inaseming van die droë kors se stof wat deur die wind versprei word en ook siektes kan saamdra. Die besoedeling van die onderaardse waterbronne het ons almal belang by.
Daar is munisipaliteite wat grasaanplantigs (laat) doen en sodoende werk skep vir andersins werkloses. Waarom kan dit ook nie hier by Refengkgotso gedoen word? Dit is maklik om skouerophalend die houding in te neem dat dit ‘n landswye probleem is en jy is in die kol maar ons as individue moet begin om saam te werk sodat ons ons waterbronne kan red. Hierdie besoedeling gaan op ‘n stadium onomkeerbaar wees en dan is dit verby met ons. Riool is ons almal se probleem of ons dit wil weet aldan nie.
Ter afsluiting kan mens verstaan dat daar tog oproerigheid gaan plaasvind indien jy nie dienslewering kry en voort moet ploeter in haglike omstandighede. Dis wat ek en André probeer verhoed deur mense by te staan wat nie weet hoe om te werk te gaan met klagtes maar wat bowenal skrikkerig is vir intimidasie waaraan ook ons onsself blootstel.

Dit lyk na ‘n vrolike stroompie water wat hier in 2015 na die Vaaldam kabbel, maar in werklikheid was dit rou riool! Sulke probleme gaan hopelik nou eindig met die installering van die nuwe pomp in die rioolnetwerk.
Talle huise in Refengkgotso was omring deur riool wat hier uitgeborrel het.
Die uitsig waaraan inwoners van Refengkgotso vir ‘n geruimte tyd blootgestel was: ‘n Moeras van riool digby hul voorstoep.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button