Dwelms dryf inwoners teen die mure uit

SASOLBURG. – Inwoners van Brill- en Lindleystrate in die dorp is keelvol vir dwelmsmouse en dwelmverslaafdes wat die groenstrook tussen die twee strate se huise daagliks bemors.

SASOLBURG. – Inwoners van Brill- en Lindleystrate in die dorp is keelvol vir dwelmsmouse en dwelmverslaafdes wat die groenstrook tussen die twee strate se huise daagliks bemors. Dwelmsmouse stap blykbaar heeldag in die groenstrook rond en gretige kliënte kom en gaan van vroegoggend tot laatmiddag.
“Wat dit egter nog erger maak, is dat die verslaafdes dan sommer net hier sit en hulself met die gemors inspuit en dwelms gebruik. Hier stap baie skoolkinders en oumense verby, maar dit traak hulle nie. Hulle probeer dit nie eers wegsteek nie. Hulle kyk jou in jou oë terwyl hulle dit doen. Van die skoolkinders het dit ook nou begin doen,” vertel een van die ontstoke inwoners. Hulle is egter nie net besorg oor die kinders en oumense wat hierdie gebied daagliks gebruik se veiligheid nie, maar ook oor hulle eie veiligheid.
“Vandat hierdie dwelmprobleem begin het, word baie van die inwoners wie se huise aan die groenstrook grens se besittings gesteel. Ek het al van die dwelmgebruikers van die mense hier se mure afgejaag. Hulle het al by my en my buurman ook ingebreek,” sê hy.
Die inwoners het al ‘n petisie opgestel en die polisie het ‘n klopjag in Brillstraat kom uitvoer, maar ‘n paar dae later sit die dwelmsmouse maar net weer op straat.
“Ons wil net die mense bewus maak van wat hier aangaan. Ons en die polisie se hande is afgekap, want hulle neem die mense in hegtenis, maar na hul hofverskyning is hul weer op vrye voet. Wat moet mens doen?” het hy mee afgesluit.

Exit mobile version